ONLANGSE berigte rondom die toekoms van die Hugenote Kollege het ook die soeklig op Continuing Education for Africa (CEFA) geplaas. CEFA is ’n Artikel 21 Maatskappy sonder winsbejag wat reeds sedert 2003 bestaan en wat aanvanklik deel was van die Hugenote Kollege (Continuing Education at Huguenot College CE@HC).
Die groot verskil tussen die Hugenote Kollege en die maatskappy was dat die Kollege graad- en diplomakursusse aangebied het op Kwalifikasieraamwerk (NQF) vlak 5 en hoër, terwyl die maatskappy vlak 4 en laer aangebied het.
Nadat die wetgewing in 2006 verander het, was die maatskappy genoodsaak om as onafhanklike regsentiteit (diensverskaffer) te registreer.
CEFA is ’n geakkrediteerde diensverskaffer van die Health and Welfare SETA (HWSETA) en die aktiwiteite het, behalwe dat dit sedert 2003 baie uitgebrei het, presies dieselfde gebly en dieselfde kursusse word steeds aangebied.
Toe die werksaamhede van die huidige CEFA in 2003 ’n aanvang geneem het onder die vaandel van die Hugenote Kollege, was dit vir ’n baie lang tyd die enigste geakkrediteerde aanbieder by die HWSETA van die Maatskaplike Hulpwerk-kursus.
Selfs nadat CEFA onafhanklik begin funksioneer het, bestaan daar steeds ’n baie nou verhouding tussen die twee entiteite en komplimenteer die dienste van die twee instellings mekaar.
Sedertdien het die werksaamhede en kursusse van CEFA aansienlik uitgebrei tot ’n baie suksesvolle besigheid wat die afgelope twee jaar reeds twee keer nasionaal bekroon is deur die HWSETA, eers as sentrum van uitnemendheid (ISOE toekenning) vir die tydperk 2008-2009 en gedurende Februarie 2010 ná afloop van ’n landswye onafhanklike oudit, bekroon is met “Beste Praktyk” status. Dienste word so ver soos Limpopo en Kenia aangebied.
Die kursusse wat CEFA aanbied is almal geregistreer by die Departement van Onderwys, Hoër Onderwys, SAQA en Umalusi en sluit in Maatskaplike Hulpwerk, Vroeë Kindontwikkeling, gemeenskapsontwikkeling, mentorskap en bemagtiging in.
Dr Karien Lubbe