DIT is vir my ’n riem onder die hart om die Drakenstein Verkeersentrum in die Paarl te besoek. Mev Malan met haar personeel lewer uitstekende diens - hulle is vriendelik, hulpvaardig en het die wêreld se geduld.
As dit van my afhang, sal ek elke dag die kantoor wil besoek - niks is vir hulle te veel nie, en jy ervaar die positiewe atmosfeer as jy die kantoor instap.
En dit is nie dat hulle in die maklikste werksituasie sit nie, want soos ons weet kan motorlisensies met al die pyne jou tot raserny dryf.
Maar glo my, maak nie saak watter tyd van die dag jy instap nie, jy word vriendelik gegroet en daar word tyd spandeer om alles aan jou te verduidelik.
Dankie vir jul uitstekende diens - as al die instansies, departemente en besighede dié tipe diens kan lewer, sal daar klaar ‘n groot verskil wees in die ekonomie van ons land.
Lizette du Toit