HOEKOM verloop atletiekbyeenkomste op die Daljosafat-stadion nooit volgens tyd nie? Is dit ’n Boland Atletiek-ding of gebeur dit onder die beheer van ander atletiekliggame ook?
Ek twyfel of WP Atletiek ’n byeenkoms sou aanbied waartydens items eers twee ure ná die beplande tyd begin.
Vrydag en Saterdag was dit weer eens die geval tydens die Wes-Kaapse Hoërskole Atletiekbyeenkoms, met van die items wat met ure vertraag was.
Volgens die program moes die laaste items teen 15:45 afgehandel gewees het, maar teen 17:00 was die byeenkoms nog nie klaar nie.
Dit is letterlik elke keer die geval wanneer ’n byeenkoms op die Dal aangebied word. Ek bejammer die ouers wat hulle kinders daar moet bystaan.
Ek kan dink dat dit vir werkende ouers soms ’n gesoebat by die werk verg om vroeg weg te kom, net om te sien hoe hul kind moet rondstaan en wag vir items om te begin.
Atlete se senuwees knaag net voor ’n item, maar in twee ure se tyd weet hulle nie of hulle heeltyd moet opwarm en of hulle eerder moet rus nie.
Ek wil net graag weet hoe ’n mens elke liewe keer die program so verskriklik verkeerd kan beraam? Is dit elke keer dieselfde persoon van Boland Atletiek wat die tye beraam?
Indien dit wel dieselfde persoon is, moet daardie persoon asseblief ’n ander beroep oorweeg.
Boland Atletiek beskik oor puik atlete. Ek wens net ons kon dieselfde sê van Boland se organiseerders en bestuur.
Ontevrede