Skole-spanne tem opposisie
2010-03-25
GEGROND op uitslae wat onlangs in opwarmingswedstryde behaal is, lyk die meeste skole-rugbyspanne van die Paarl-omgewing slaggereed vir die 2010 rugbyseisoen. Die grootste oorwinnings is deur Hoër Jongenskool behaal, wat 70-0 afgereken het met HTS Bellville tydens die Brackenfell sportdag. Boishaai het ook verlede week 52-10 gewen teen ’n gekombineerde FNB-span (Klein Nederburg Sekondêr en New Orleans Sekondêr), nadat laasgenoemde belowend begin het. Tydens die Brackenfell Sportdag het Hoër Landbouskool Boland ook ’n oortuigende 31-9 sege behaal teen Hoërskool Bellville. Hoërskool Labori het op hul beurt 7-0 geseëvier teen Fairburn. Hoewel hulle nie ’n swak wedstryd beleef het nie, kon Hoërskool Hugenote van Wellington ongelukkig nie die knoop deurhak teen Hoërskool Tygerberg nie. Hugenote het 20-27 vasgeval. * Gister was HJS, Landbouskool en Hoërskool Gimnasium in aksie op Nuweland, teen Rondebosch, Bishops en Sacs onderskeidelik.
More
News
|