Jantjies trap altyd voor
2010-03-25
Jaco van Wyk
OP 13-jarige ouderdom beleef Jean-Claude (JC) Jantjies tans ’n droomseisoen - ’n seisoen waarin hy tot dusver nog elke keer die hoogste blok van die podium onder sy voete gevoel het. Op die oomblik het hy, op o.14-vlak, nie sy gelyke in Suid-Afrikaanse fietsry nie en is hy ’n welverdiende wenner van Paarl Post se Let’s Play sportster van die maand-toekenning! Dié bobaas-fietsryer van die Yorkshire Fietsryklub, wat tans skoolgaan by New Orleans Sekondêr, se goeie vertonings het onlangs aan hom die pienk trui besorg - ’n amptelike aanduiding dat hy tans die voorste o.14 padfietsryer in Suid-Afrika is. Volgens Ian Goetham, een van JC se afrigters by Yorkshire, is JC gefokus en beskik hy oor natuurlike talent wat hom nog gaan ver bring as fietsryer. “JC het die potensiaal om uit te styg en groot hoogtes te bereik. Hy het daardie natuurlike spoed en uithouvermoë as fietsryer,” sê Goetham. As o.14 ryer het JC al verskeie titels ingeryg, onder andere die WP Baankampioenskap- en WP Padkampioenskap-titels (albei in 2009). Tot dusver het JC vanjaar in al ses o.14 wedrenne waarin hy betrokke was (in die Pedal Power Virgin Active padliga-reeks) gemaklik seges behaal, insluitend die SA Padkampioenskappe in Klerksdorp. Met twee SA Baankampioenskap-titels (in 2008 en 2009), glo JC egter dat hy sommer baie beter op die baan as op die pad is. “Ek geniet pad en baan, maar baan is my gunsteling,” sê JC. “Pad het net te veel bulte en klimme en dit maak ’n mens darem heeltemal te moeg,” lag hy. JC meen sy goeie vertonings, is te danke aan sy afrigters by Yorkshire, asook ure en ure se strawwe oefening. “Marius September (elite-ryer van Yorkshire) vat ons elke dag om saam met hom te oefen. Hy is amper soos ’n afrigter vir ons en ons ry elke dag van die week ongeveer 60km,” sê JC. “Verder het ons goeie afrigters by Yorkshire. Ian Goetham, Gregory Botha en Kevin Green se insette help ongelooflik baie.”
More
News
|