Kanker-wedloop ’n reuse-sukses
2010-03-25
Liezl Dyson
PAARL se eerste Cansa Relay For Life was ’n reuse-sukses met 43 spanne wat aan die deurnag-wedloop teen kanker deelgeneem het. Dié spanne het altesaam R96 000 vir Cansa ingesamel. Die deurnag-aflosfees is Saterdag en Sondag by die Zanddrift-sportterrein (Boy Louw) gehou. Relay is die grootste fondsinsamelingsprojek vir kanker in 20 lande wêreldwyd en het ook die Kankervereniging van Suid-Afrika (Cansa) se voorste bewusmakingsinisiatief geword. Cansa Relay For Life Paarl het besluit om hierdie jaar pers te gaan wat die teken van hoop uitbeeld. Spanne het reeds vroeg Saterdag hulle tente en stalletjies opgeslaan om gereed te maak vir Paarl se eerste Cansa Relay for Life. Die deurnag-wedloop is geopen met ’n erediens, waarna die 80 oorwinnaars (mense wat kanker oorwin het) die wedloop geopen het met ’n ereronde. Hulle was die eregaste. Daarna is heelnag deur vermaak aangebied en iets om te eet by die verskillende stalletjies. “Dit was regtig ’n groot sukses en Paarl se projek word beskou as een van die bestes in die land. Ons het R96 000 ingesamel,” het Alta Falck, Projektefasiliteerder van Cansa, gesê. Die Sondagoggend is die Relay afgesluit met ’n diens en verskeie spanne het ook pryse gewen. Die algehele wenspan, Hoping is Coping, het die Theuns Bester-wisseltrofee ontvang, Satchwell het die prys vir die beste spangees ontvang, Walk the Walk het die prys vir die beste banier ontvang, Super Stars het die meeste geld ingesamel, die Voortrekkers het die mees unieke idees gehad en Jamaica het die prys vir die beste stalletjie gekry. “Dit was so ’n mooi ervaring. Toe almal hul kersie vir hul geliefdes aansteek, kon baie nie hul trane keer nie. Die boodskap was so geseënd, maar jy moes daar gewees het om die gevoel te ervaar,” het Wilma Davids van die Satchwell-span gesê. Volgens haar het sy nie een keer gedink aan slaap nie en gaan sy beslis weer volgende jaar deelneem. Kelvin de Jager (organiseerder) het alle deelnemers en ondersteuners bedank. Alle geld wat ingesamel is, help om te sorg vir dienste aan kankerpasiënte, om vroeë opsporing en gesonde leefstyle aan te moedig, asook om kankernavorsing te bevorder. Mense wat by volgende jaar se projek betrokke wil raak, kan Alta Falck, kontak by 023-342-7058 of by 082-972-8745.
More
News
|