Suksesvolle naweek vir Paarl hengelaars
2010-03-25
DIE Paarl Varswaterklub se hengelaars het behoorlik gebaljaar onder die vis tydens die tweede klubkompetisie van die jaar te Verlorenvlei by Elandsbaai. Die weer het mooi saamgespeel met ’n bewolkte oggend wat later verander het in ’n mooi sonskyndag met ’n lekker woelige westewindjie wat die water lekker omgekrap het. ’n Totaal van 37 hengelaars het opgedaag en 434 visse is gevang tydens die kompetisie van sewe uur. Blackie Swart was die beste hengelaar van die dag met ’n totaal van 52 visse vir ’n gesamentlike gewig van 47,2kg. Kort op sy hakke was Phillip Theron met 46 visse en in die derde plek Paul Greyling jr met 37 visse. Onder die dames was dit weer eens Elsa Breytenbach wat die beste gevaar het met 17 visse, met haar dogters Bianca en Marissa wat tweede en derde was met 12 en 10 visse elk. Stokkies Rossouw het die grootste karp van die dag gevang met ’n gewig van 6,27 kg. Dit kan met trots gemeld word dat elkeen van die 434 visse wat gevang is weer teruggeplaas is in die water om nog groter te word vir volgende jaar. Die volgende kompetisie is op 24 April (Daytona-dam, Ceres).
More
News
|