Waar daar brood is, is daar meel
2010-03-25
PIONEER FOODS, genoteerde swaargewig-voedselverskaffer, broodbakker en meulenaar, met hulle hoofkantoor hier in die Paarl, sit al weer met die Mededingingskommissie op hulle nekke. Die stofwolk oor die broodkartel, waarby van die voorste bakkers in Suid-Afrika betrek is, het nog nie eens behoorlik gaan lê nie, of Pioneer moet weer voor die Mededingingstribunaal verskyn oor beweerde kartelvorming onder meulenaars. Terwyl Pioneer Foods saam met Ruto Mills van Foodcorp en Godrich Milling moet pa staan oor beweerde kartelvorming in die koringmeelbedryf, hang die swaard van ’n verhoogde boete oor die broodkartelaanklag nog oor hulle. Hulle is met R197 miljoen beboet, maar nou appelleer die Mededingingskommissie teen die boete. Hulle voer aan dat Pioneer Foods nie net 10% van hulle broodbedrywighede moet opdok nie, maar 10% van die groep se omset. Dit kan die boete tot R1,5 miljard opstoot. Twee van die ander groot koringmeulenaars, Premier Foods en Tiger Brands, het vrywaring van vervolging gekry vir hul deelname aan die vermeende koringmeelkartel deur hul samewerking te gee aan die ondersoekers.
More
News
|