DIE wynlandgoed Le Bonheur, naby Klapmuts, vertoon Franse kunsflieks op die laaste Vrydag van elke maand. Die eerste is Au Revoir les Enfants, ’n roerende aanbieding van oorlogsherinneringe deur die beroemde Franse regisseur Louis Malle.
Dié klassieke fliek, wat talle fliekvlooie as sy beste film beskou, word op 26 Maart vertoon. Die vertonings word voorafgegaan deur ’n verwelkomingsdrankie en ’n Franse tweegang-maaltyd in Le Bonheur se historiese opstal bedien.
Coco avant Chanel, deur Anne Fontaine geregisseer en met Audrey Tatou in die hoofrol, word op 30 April vertoon. Dié fliek toon Chanel se opgang van haar kinderdae as ’n weeskind tot mode-ikoon.
Audrey Tatou vertolk ook die hoofrol in Amélie, waar sy die rol van ’n onskuldige meisie speel wat almal rondom haar wil help. Dié fliek wys op 28 Mei.
Die 2007-weergawe van Molière, deur Laurent Tirard geskryf en geregisseer, word op 25 Junie vertoon. Die eet-en-fliekaande, waar tot 40 gaste aanwesig kan wees, begin om 18:30. Besprekings (R110 per persoon) is noodsaaklik by Frandi Wiid (021-875-5478).