Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


’n Passie vir drama en die gemeenskap

’n Passie vir drama en die gemeenskap
 
2010-03-25


DIE familieman met ’n passie vir drama, Jeffrey Moss, meen jy is nooit te oud om te droom nie.

Moss, ’n pa van twee en ’n onderwyser by New Orleans Primêr, se hart lê na aan die gemeenskap asook die dramawêreld. Moss, bekend vir sy werk in die teater, het ook filmwerk agter sy naam en het reeds in verskeie televisieprogramme verskyn.

Sy jongste verskyning was in die televisiereeks Class Act, waar duisende deelnemers aan drama-oudisies deelneem en dan teen mekaar meeding om as die wenner van die reeks aangewys te word. Soos die program Idols, kies Suid-Afrikaners wie hulle beste akteur is. Hy het deurgedring na die tweede ronde en ’n onderhoud is met hom en sy familie by hul huis in New Orleans gedoen. Die program is te sien op SABC 1 Saterdae om 18:30.

Hy het ook al in televisieprogramme sy verskyning gemaak soos, Soutmansland, Backstage, Shooting Bokkie en vele meer.

Moss se eerste kort film, Die Pakkie, is in Paarl-Oos geskiet, grotendeels in Chicago. Hy het ook die mense in die gemeenskap gebruik as hoofkarakters en ekstras.

Die film vertel die verhaal van dwelmhandel onder skoolkinders en hoe dit hul huislike omstandighede en skoolwerk negatief beïnvloed. Moss se droom is om ’n opvolg te verfilm. Hy en sy vrou, Millicent, het tydens die skiet van Die Pakkie hul huis oopgemaak en slaapplek vir die akteurs en film-span voorsien, asook kos vir almal betrokke by die skiet van die film. Ander films waarin Moss gesien kan word (hy was ook betrokke by die vervaardiging), is te sien op die Cape Town televisie-kanaal in die Kaapse Metropool. Hy is ook betrokke by die vervaardiging van Kruispad (wat die verhaal vertel van lyding, liefde en MIV/Vigs), Ithemba Lisekhona, Wanneer die dop skop en It’s my life. Dié films is ook te koop by Lux-Verdi Boekwinkels, en Bybel Media. Van die films het Moss self geskryf en saam met sy mede-regisseur, Peet Neethling die regie behartig. Hy en die bekende skrywers Petro Rhode en Warrin Rickets is tans besig met ’n komedie reeks vir die Cape Town televisie-kanaal.

Die dramagogga het reeds vir Moss op laerskool gebyt en het hy sy drome verder op hoërskool uitgeleef. Hy het ook reeds oorsee getoer waar hy in verskeie teaters en by universiteite opgetree het.

Moss se begeerte is dat al die stories in die Paarl op film vasgevang moet word en om die gemeenskap te bemagtig deur hulle by die verfilmingsproses te betrek.

“Daar is baie stories wat oorgedra moet word, drome wat bewaar moet word.”

Volgens Moss wil hy sy talent gebruik om kinders wat op straat en of betrokke is by bendegeweld, dwelms of net van die skool wegdros, te bemagtig met die kuns van drama.

Hy is ook betrokke by Dopstop, waar hy uitgaan na plase en kinders dramavaardighede aanleer en hy is ook werksaam by die Helen O’Grady Drama Academy.

“Baie van die kinders op plase word blootgestel aan so baie negatiewe dinge soos drankmisbruik en misdaad en ek wil graag deur toneelspeel nuwe vaardighede vir hulle leer sodat hulle nuwe moontlikhede kan ontdek.”

Nie net het die dramagogga Moss gebyt nie, maar ook sy twee seuns Jayden en Jamey. Jamey het al saam met sy pa gespeel in ’n televisieprogram Thetha Msawawa (Speak Out) en het reeds verskeie toekennings vir drama ontvang. Wanneer Moss nie voor die kamera of op die verhoog is nie, spandeer hy sy vrye tyd saam met sy gesin.

“Ek is ’n familieman en ek geniet dit om saam met my gesin te kuier en lekker om die swembad te ontspan.”

Volgens Moss wil hy graag sien dat uitvoerende kunste in die Paarl nuwe hoogtes bereik en bydra sodat die gemeenskap hul drome kan uitleef.

“Dit is nie nodig om beroemd of ryk te wees om jou drome uit te leef nie en dit maak nie saak hoe oud jy is nie, moet nooit ophou droom nie.”

Indien jy betrokke wil raak, kontak Moss by 082-7466-483.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za