Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skool se sportvelde pla

Skool se sportvelde pla
 
2010-04-01


DIE Wagenmakersvallei Primêr in die Bovlei gaan mank aan ordentlike sportvelde.

Hierdie area is wel omhein, maar dit is so ongelyk dat dit gevaarlik is om rugby en atletiek daar te oefen.

Daarom moes Franco Hendricks (100m atleet o.10) baie opoffer en selfs op die grondpad voor die skool oefen om onlangs die Wes-Kaapse atletiekspan te haal wat by die nasionale atletiekkampioenskape te Oos-Londen meegeding het.

Skoolhoof Leslie Arendse en die atletiekafrigter by die skool, Helena Krynauw, vertel hoe moeilik dit is om aan hul leerders die beste moontlike ondersteuning en afrigting te bied in omstandighede waar daar bykans geen fasiliteite is nie.

Franco woon op ’n plaas agter Groenberg en ry per bus skool toe en terug huis toe. Aangesien die bus net ná skool vertrek, kan Franco nie in die middag agterbly om te oefen nie.

Krynauw het dus gereël dat hy soggens voor skool en gedurende pouses oefen.

Omdat daar nie ’n geskikte gelyk oppervlakte is waar hy kon oefen nie, het sy 80m en 100m in die Bovlei teerpad afgemeet en daar het Franco geoefen.

Deeglike veiligheidsmaatreëls is getref, maar hulle het nogtans baie teenkanting van die publiek oor hierdie reëling ondervind.

Franco het nogtans so goed in sy nommers gevaar dat hy in die Wes-Kaapspan opgeneem is om aan die nasionale byeenkoms deel te neem.

Op daardie stadium het Krynauw besef dat hy ekstra voorbereiding nodig sou hê. Vir vier weke het sy ná skool met hom Daljosafat-stadion toe gery, waar Freddie Neft hom ook gehelp het - veral met wegspringblokke wat hy glad nie geken het nie.

Die Saterdag ná afloop van die Wes-Kaap byeenkoms het Franco gehoor dat hy in die span opgeneem is en dat alle spanlede teen die Woensdag R1500 moes bydra.

Krynauw het ’n pleidooi op Facebook gesit en teen die Maandag het sy genoeg geld ingesamel om Franco te borg. Die skool is dankbaar vir die publiek se vrygewigheid, veral die ouers van Bambi speelskool.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za