DIE Hoërskool Gimnasium voer vanjaar die musiekblyspel “Back to the 80’s” op van Maandag 19 April tot Donderdag 22 April met elke aand twee vertonings (18:00 en 21:00).
Die storie speel teen die milieu van skoolgaande tieners af met hul liefdes, hartseer en vreugde as tema. Heelwat lewenslesse is daaruit te leer. Gimnasium het op hierdie musiekblyspel besluit omdat dit geleentheid bied vir agtien hoofrolspelers. Die res van die rolverdeling bestaan uit 60 leerders wat sing en dans. Gim bied ook aan ’n verdere 60 leerders wat in bemarking, dekor, klank en tegnologie belang stel, die geleentheid om deel te wees van die beplanning en opvoering van die produksie.
Leerders ontwerp die kaartjies, programme, plakkate en baniere, terwyl ander die verhoog, rekwisiete en tegnologie hanteer.
Die kaartjies is te koop by die skool (021- 872-1541) sowel as by die Musik-lood (021-872 3863), vir verdere navrae. Moenie dié een misloop nie!