Gouws in tronk oor tjek vir drank
2010-04-01
Lise Beyers
DIE self-aangestelde “pastoor” Marthinus Gouws, kan net nie uit die moeilikheid bly nie. Gouws het onlangs ’n week agter tralies beland, weens beweerde bedrog. Volgens ’n polisiedossier wat geopen is by die Paarl polisiestasie, het Gouws na bewering drank aangekoop vir sy kerk, Africa Evangelistic Foundation Ministries, en daarvoor betaal met ’n ongeldige tjek. Gouws is ’n stigterslid van die kerk. Die drank is aangekoop by ’n drankwinkel in Jan van Riebeeckrylaan vir ’n biertuin wat die kerk aangebied het in Desember. Nog ’n saak wat tans deur die Paarl-Oos polisie teen Gouws ondersoek word, is dat hy ook hoenders aangekoop het met ’n ongeldige tjek. Nou word daar talle vrae gevra oor die feit dat Gouws tesourier is van die Paarl-Oos gemeenskapspolisiëringsforum. Hy is tans ook in die spervuur in ’n hofsaak omdat hy homself glo as ’n regsgeleerde voorgedoen het. Gouws word daarvan beskuldig dat hy aan die ouer van ’n beskuldigde in ’n Vredendalse moordsaak voorgegee het dat hy ’n ooreenkoms met ’n advokaat het, waarvolgens hy as agent vir hom mag optree. Gouws, van “Gouws & Gouws Konsultante”, is R11 050 deur die moeder van die beskuldigde betaal om ’n regspan bymekaar te kry wat haar seun sou verdedig in sy moordsaak. Die regspan het egter nooit opgedaag nie. Die saak kom weer op 30 April in die Paarl Streekhof voor. * In 2005 is ’n saak van verkragting van ’n tienermeisie teen Gouws hangig gemaak, na ’n voorval in die Welsynskantore in die Paarl. Die gemeenskap van Paarl-Oos het in 2007 gewys hoe voos hulle vir Gouws se manewales is, deurdat ’n mosie van wantroue ingedien is deur wyse van ’n petisie met meer as 1000 handtekeninge op, aan die Paarl-Oos GPF oorhandig is. Gouws is uiteindelik uit die forum geskop, maar het binne twee jaar homself weer in die GPF se gemakstoel ingeskuif. ’n Woordvoerder van die GPF het gesê dat daar binnekort ’n dringende vergadering byeen geroep sal word om hierdie aangeleentheid te bespreek. * The maverick Paarl East “pastor”, Marthinus Gouws, is in the pickle again due to a cheque that bounced.
More
News
|