Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ek hoor die kameel asemhaal

Ek hoor die kameel asemhaal
 
2010-04-01

Winnie Rust

DIS ’n onderwerp wat ons almal vermy. Dis iets waaroor ons selde dink of praat. Dis iets wat met ander gebeur, maar nie met ons nie.

En tog is die koerante daarvan vol. Dis op straathoeke, by vakansieplekke, op feesterreine, in ouetehuise en skole, op sportvelde en in werksplekke teenwoordig; dit maak sy verskyning soms helder oordag, soms diepnag.

Ek praat van die dood, die plek waarvandaan niemand nog teruggekeer het om ons te vertel hoe dit daar anderkant uitsien nie.

Dis die groot geheim waaroor ons soms wonder, miskien by geleenthede soos begrafnisse, maar nie verder oor praat nie.

Agter in ons kop, ver verwyderd van ons alledaagse lewe, het elkeen heimlik sy eie filosofie oor die dood.

Sommige glo jy los uiteindelik weer op soos blare, jy word weer grond, jy voltooi bloot ’n biologiese siklus. En daarmee hou jy op met bestaan.

Ander weer, glo daar is ’n ander vorm van bestaan ná die dood, en moontlik ’n beter vorm van lewe as dié een wat ons ken wat so deurspek is met lyding en verlies.

Maar steeds bly die dood ’n diepverborge geheim, een wat ons liefs opsyskuif in die bedrywigheid van elke dag.

Paasfees gaan juis oor die dood.

Christene gedenk die dood van ’n M/man wat gesterf het, ’n dood wat gepaard gegaan het met intense lyding, ’n onuitspreeklike lyding in ’n gebied wat die hel self was. ’n Lyding so groot dat H/hy uitgeroep het dat God H/hom verlaat het. Hierdie man, dan, het die doodsterrein betree wat geeneen van ons ken nie, en daaroor terugvoering gegee.

Die verhaal lui verder dat H/hy ná drie dae weer opgestaan het, dat H/hy teruggekeer het na sy aardse vriende met die merke van lyding en seerkry nog aan sy lyf, en dat H/hy hulle getroos het.

Hy het hulle vertel dat H/hy hierdie vreesagtige gebied, die dood, oorwin het. Uiteindelik sal H/hy hulle oor die grens na dié verborge gebied vergesel, sê H/hy, hulle het niks om voor bang te wees nie. Verder sal hy vir hulle ’n Trooster gee, iets soortgelyks aan die wind wat jy voel, maar nie sien nie, en hierdie onsigbare T/trooster sal hulle daaraan herinner dat hulle niks het om te vrees nie.

’n Vreemde, roerende verhaal, ’n verhaal wat ons sou aangegryp het as so baie van ons nie van kindsbeen af dikwels op ’n oninsperende manier daaraan blootgestel was nie. ’n Verhaal wat ons konfronteer: glo dit só, onverdund, of verwerp dit.

Die ongelowige Thomas in ons vra: niks het om voor bang te wees nie? Nie bang te wees vir die verskrikking van die dood wat ons almal so vrees nie? Wie is hierdie T/trooster waarvan H/hy praat?

Só verduidelik ’n groot skrywer hierdie onsigbare bystand: “Ek lees ’n artikeltjie oor ’n kort uittog in die woestyn, die verteller slaap die nag in ’n tent, teenaan die seil. Sy voel agter die seil iets groots skuif en roer, sy kom ’n groot asemhaling agter: Die kameel waarop sy gery het, het van buite teenaan die tent kom lê.

Sy raak aan die slaap met ’n gevoel van beskerming wat van die groot asemhaling na haar kom.

Ek dink: “Ek weet die beweging van God is agter die seil wat my inperk. Ek moet bewus bly daarvan.”

Die T/trooster dan is soos die asemhaling van die Groot Kameel agter die seil, ’n asemhaling wat ons met ons oor teen die seil mag hoor in die nag, in die aangesig van die dood.

Dit vra alleen maar ’n voortdurende bewuswees van die T/trooster wat so na aan ons is dat ons H/hom kan hoor asemhaal.

Eendag, glo ek saam met ander, sal die seil wat ons inperk oopgebreek word, sal die groot geheim aan ons bekend gemaak word, sal ons die eindelose woestyn voor ons sien uitstrek. Mag ons by die denke oor die dood hierdie Paasfees die groot asemhaling voel van ’n teenwoordigheid wat troos.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za