Span met ’n plan
2010-04-01
Jaco van Wyk
OM soos afkophoenders rond te skarrel op die rugbyveld, planloos en ietwat verward, gaan nie werk nie. ’n Goeie wedstrydplan is aan die orde van die dag. Gelukkig vir Boland rugby-liefhebbers is Francois Davids aan stuur van sake - ’n man wat die hoogste berge sal uitklim op soek na die beste game plan vir sy geliefde Boland Kavaliers. Met die doel voor oë om uiteindelik een van Suid-Afrika se sterkste rugby-unies te word, het die president van die Boland Rugby-unie juis onlangs só ’n hoë berg trotseer, toe hy ’n ooreenkoms met Renier Swart van die maatskappy Game Plan aangegaan het, om 50% van die Boland Rugby-unie se aandele te koop. Swart se vennote in die projek is niemand anders nie as die Springbok-afrigter Peter de Villiers, die Springbokslot Victor Matfield en die Suid-Afrikaanse sangsensasie Kurt Darren. Almal onthou nog die Fidentia-flop en ’n bitter smaak word steeds geproe deur bloot dié naam te noem. Soos ’n ridder op ’n wit perd het ‘Game Plan’ nou opgedaag - ’n naam wat sommer ’n soet smaak agterlaat. Geen wonder die tonge is die laaste ruk so los oor die vooruitsigte van Boland Rugby nie. Volgens Davids moet mense egter eerstens verstaan dat Game Plan nie Boland Rugby se nuwe borg is nie, maar ’n aandeelhouer. Game Plan sal die helfte van die Boland Rugby-unie besit. “Die idee agter alles is om rugby in die Boland te laat groei,” sê Davids. “Boland Rugby se eerste prioriteit is om ná afloop van dié seisoen weer in die Curriebeker mee te ding. “Gegrond op wat vanjaar bereik word, sal daar weer volgende jaar gesit en gekyk word waar ons staan, maar uiteindelik wil ons onder die top ses spanne in die land tel,” sê Davids. Wat Kurt Darren se betrokkenheid aanbetref, sê Davids: “Jy sal verbaas wees oor hoe passievol hy oor sy rugby is. De Villiers en Matfield se deelname word tans bevraagteken, aangesien beide betrokke is by Springbokrugby. “Dit is ’n saak wat deur SA Rugby uitgeklaar moet word,” sê Davids “Boland Rugby het in elk geval ’n kontrak gesluit met Renier Swart van Game Plan en nie met De Villiers of Matfield nie.” Swart, ’n suksesvolle sakeman en passievolle rugby-ondersteuner van Pretoria wat tans in die Paarl woon, het nog altyd daarvan gedroom om sy eie sportspan te bestuur, en is positief oor die waarde wat sy vennote kan toevoeg. Terwyl Swart vir De Villiers en Matfield loof vir die insette wat hulle lewer in Suid-Afrikaanse rugby, kan hy Darren se betrokkenheid net goedpraat. “Hy is een van die land se beste bemarkers.” “Die bottom line is dat Boland Rugby die grootste rugby-provinsie in die land is, met 235 klubs en meer as 15 000 spelers,” sê Swart. “Vergelyk dit met Tonga, wat die 15de posisie beklee op die IRB ranglys. Hulle het 10 000 spelers in die hele land. “Ons wil graag hê dat Boland Rugby sy regmatige plek in Suid-Afrikaanse rugby moet inneem,” sê Swart. Volgens Boland Rugby se direkteur van afrigting, Eugene (Loffie) Eloff, lyk sake tans baie belowend by Boland Rugby. “Ek is baie opgewonde oor wat tans aan die gebeur is,” sê Eloff. “Boland Rugby is besig om ’n nuwe era te betree.”
More
News
|