Onmin oor gemeente saamsmelt
2010-04-01
EK stem 100% saam met Phil du Plessis se stelling dat die besware wat geopper word teen die samesmelting van die NGK Strooidak en Drakenstein “spruit uit ’n vrees vir verandering” en dat dit veral ouer lidmate is wat die vrees het. In die moderne eeu is verandering die enigste konstante, dit weet ons. Ons word daagliks in die werksplek daarmee gekonfronteer en indien jy nie aanpas en op hoogte bly van verandering nie word jy ’n remskoen en word vooruitgang getemper. Die lae stempersentasie van 36% en 33% onderskeidelik van die twee gemeentes weerspieël maar net weer eens hoeveel mense nog wel betrokke is en die uitslag van dié wat wel gestem het, bevestig net die sogenaamde 20/80 beginsel. Die vraag waar die oorblywende ongeveer 60% van lidmate is, bly onbeantwoord. Is dit nie lidmate wat die kerk “gebruik” om onder andere hul kinders te laat doop, te laat voorstel, te laat trou en om self begrawe te word nie? Dit is veral tydens dié plegtighede wanneer “vreemde” gesigte gesien word en wat verdere navraag bevestig dat hulle inderdaad lidmate is. Ek dink dit is hoog tyd dat attestate aan lidmate teruggegee moet word. Indien hulle dan wel betrokke wil wees, kan hulle die attestate terughandig en daarmee bevestig dat hulle betrokke lidmate wil wees. Die resultaat van attestate wat so terugkom, sal ooreenstem met die onderskeie stempersentasies.
CF Pieterse
More
News
|