OP Vrydag 12 Maart ry twee beamptes van Wetstoepassing by my verby sonder veiligheidsgordels. By die volgende stopteken stop ek langs hulle en vra of net die algemene publiek veronderstel is om veiligheidsgordels te dra.
Die passasier sit toe syne aan terwyl die bestuurder sê dat syne foutief is (dan is die voertuig seker onpadwaardig?).
Ek skakel mnr Francois Davids (hoof van Wetstoepassing) en hy deel my mee dat hy met verlof is.
Ek skakel toe kantoor toe en vra om met die volgende persoon in beheer te praat waar ek toe my rede vir die oproep meld en vra toe ook dat daar dan met die betrokke amptenare gehandel sal word.
Op 18 Maart skakel ek mnr Davids weer om uit te vind wat hulle toe met die amptenare gedoen het, waarop hy my antwoord dat hulle ingeroep is en dat daar baie streng met hulle gesels is.
My reaksie was dat daar mos nie twee stelle reëls kan geld nie en dat hulle beboet moet word soos een en elk van die publiek. Sy reaksie was dat hy gedoen het wat hy goed dink.
Is dit dan nou so dat as jy vir die instansie werk (wat deur ons publiek se belastinggeld betaal word en dus is hy ons werknemer) jy nie reëls en wette wat vir ander geld hoef te gehoorsaam nie? Le Roy