AL ooit opgelet dat parkeerplek vir motorfietse in die plek van kinderparkering aangebring is by die Paarl Mall?
Motorfietse kan seker op enige ander plek hul regmatige parkering gekry het, maar nou moet die mammas van die dorp maar sukkel in wind, reën en son en doer ver van die ingang parkering kry.
Al ooit gesien hoe ’n baba/kind wat slaap skrik vir ’n motorfiets wat wegtrek uit sy parkering, hier reg langs hom/haar?
Die beste is dat die gestremde parkering baie meer is as die kinderparkering. Wie is die meerderheid? Dan parkeer gestremdes ook nog op die kinderparkering
So ek neem aan dat ons mammas maar op hulle parkering ook mag staan.
Ek reken dat by elke ingang daar gelyke hoeveelhede spesiale parkering vir elke geval moet wees.
Sodoende word almal gehelp. As dit wel vol is, moet jy seker elders parkeer, maar daar kan regtig aandag aan geskenk word.
Juanita
Lisa de Boer, bestuurder van Paarl Mall, reageer: Geen parkering vir ouers met stootwaentjies is weggeneem om plek te maak vir motorfietsparkering nie. Paarl Mall het gewone parkering langs die ouers met stootwaentjies-parkering gebruik om vir motorfietse parkering te verskaf.
Die hoeveelheid parkering vir ouers met stootwaentjies is presies dieselfde vandat dit by Paarl Mall geïmplimenteer is.
Die wet vereis dat enige winkelsentrum ’n sekere hoeveelheid parkering vir gestremdes beskikbaar stel. Die wet maak nie voorsiening dat daar parkering vir ouers met stootwaentjies beskikbaar gestel word nie - dit is ’n diens wat die betrokke winkelsentrum verskaf. Dit sal ’n onmoontlike taak wees om alle kliënte met spesiale behoeftes ten volle te ondersteun, en ons voel dat ons op hierdie stadium genoegsame parkering verskaf vir ouers met stootwaentjies.
Ons glo dat dit ons eerste prioriteit is om in ons gestremde kliënte se behoeftes te voorsien deur seker te maak dat daar meer as genoeg parkering so na as moontlik aan ons ingange is.