MISKIEN lees ek en Johan Nortjé, voorsitter van die Strooidakkerk, verskillende uitgawes van die NG Kerk se Jaarboek.
Hy sę in Paarl Post van 25 Maart: “Alle NG gemeentes se getalle daal.”
Volgens die jaarboeke van 1990 en 2009 het die totale lidmaattal van die sewe gemeentes in die Paarlse ring binne 19 jaar met 1100 afgeneem, maar twee gemeentes, Agter-Paarl en Paarlberg, het met onderskeidelik meer as 200 en 600 toegeneem.
In dieselfde tydperk het die aantal lidmate in die Sinode Wes-en-Suid-Kaapland met byna 2000 toegeneem van 219 633 tot 221 357 (dit sou baie meer gewees het, as Studentekerk op Stellenbosch nie met die moedergemeente saamgesmelt het en sowat 6000 studente-lidmate nie meer bygetel word nie.)
Wat wel minder word, is die getal gemeentes in Wes-en-Suid-Kaapland, wat van 1990 tot 2009 van 242 tot 230 afgeneem het. Die leraars het in dieselfde tydperk afgeneem van 424 tot 360.
Waar elke leraar in 1990 dus 518 lidmate moes bearbei, het dit in 2009 toegeneem tot 615. Die gevolg? Lidmate word minder intensief bearbei, ontvang minder huisbesoek, raak waarskynlik makliker kerklos en so neem die aantal wat wel nog kerk toe gaan, steeds af.
In die Ring van Parow was daar byvoorbeeld die eienaardige verskynsel dat die getal gemeentes deur samesmelting van 12 (met 18 predikante) in 1990 afgeneem het tot ses met sewe predikante in 2009.
Waar elke predikant in 1990 563 lidmate vir sy of haar rekening kon neem, staan die getal in 2009 op 803.
In die moedergemeente, waarby ses ander gemeentes ingelyf is, het elkeen van die twee predikante 1300 lidmate in hulle sorg.
Hierteenoor is in die suidelike voorstede tussen 1989 en 1995 vyf gemeentes (Die Vlakte, Van Riebeeck, Southfield, Keurboom en Wynberg-Militęr, wat ’n spesiale geval was) ingelyf wat eenvoudig nie meer afsonderlik kon voortbestaan nie.
Dit was, anders as Drakenstein, nie gemeentes wat van twee na een leraar moes afskaal nie, maar gemeentes wat hulle enigste leraar nie meer kon bekostig nie.
Vandag is daar nege gemeentes in die Ring van Wynberg, elk met sy eie leraar (buiten Vishoek en Constantia wat twee elk het) en elke leraar bedien gemiddeld skaars 330 lidmate.
Reeds in 1946, in die boek “Kerk en stad: Verslag van Kommissie van Ondersoek oor Stadstoestande”, word G.M. Pellissier as volg aangehaal: “’n Ideale gemeente wat getalle aangaan, sou ek stel op 500 of 600 lidmate, en in ’n stad sou so ’n gemeente nog te groot wees, weens die groter eis van pastorale bedrywigheid.
“En as ons die ou Gereformeerde eis voor oë hou, dat elke gesin voor elke nagmaal deur die kerkraad besoek moet word, dan is so ’n gemeente in elk geval nog te groot.”
In Gauteng is daar tallose makrogemeentes. Een het 3237 lidmate en vier leraars, ’n ander 4066 en ook vier leraars, nog een 2339 en drie leraars, ’n ander 7185 en vyf leraars.
Is dit die toedrag van sake wat Paarlse lidmate vir hulleself toewens?
As ’n gemeente soos Drieankerbaai met minder as 200 lidmate sy eie kerkgebou, pastorie en leraar kan onderhou, moet ’n mens wonder wat skort met Drakenstein dat byna vier keer meer lidmate nie hulle weg kan oopsien om dieselfde te doen nie.
Morné van Rooyen Wellington