Fietsryer staan man teen bestes
2010-04-08
BRADWIN DANIELS het die afgelope naweek weer eens sy staal getoon, dié keer teen die beste wat Suid-Afrika het om te bied op o.16-vlak. Dié fietsryer van Peco Fietsryklub (All 4 Security), het tydens die afgelope naweek se SA Omnium-baankampioenskappe in Durban ’n goeie derde plek behaal in die o.16-afdeling, met die Oostelike Provinsie se Kellyn Gouveris en Gauteng-Noord se Jac-Johan Steyn wat onderskeidelik eerste en tweede geëindig het. Wat die Omnium-kampioenskappe anders maak as die gewone Suid-Afrikaanse baankampioenskappe, is dat ryers verplig word om aan alle wedrenne deel te neem, waarna al die punte bymekaar getel word om sodoende ’n algehele wenner te bepaal. Tydens gewone SA kampioenskappe kan ryers egter besluit in watter afdelings hulle wil deelneem. “Mens se veelsydigheid word nogal lekker op die proef gestel by die Omnium-kampioenskappe,” sê Bradwin. “Behalwe vir die bondelwedrenne, is daar ook individuele wedrenne waar ryers teen die horlosie jaag.” Volgens Bradwin is dit “lekker om jouself teen die beste o.16-ryers in die land te meet, al was my bene nog ietwat seer ná verlede naweek se drie dae by die Wes-Kaap-kampioenskappe.” Bradwin sê dat hy uitsien daarna om in sekere wedrenne die bordjies te verhang tydens die Suid-Afrikaanse baankampioenskappe einde September. “Ek weet dit gaan nie maklik wees nie, maar ek is bly dit vind plaas op my gunsteling-baan, die Velodrome in Bellville.”
More
News
|