Rugbyklubs skop ligas af
2010-04-08
VANAF eerskomende Saterdag gaan geen rugbywedstryd in die WP-liga ‘vriendskaplik’ wees nie. Nadat vriendskaplike wedstryde die afgelope paar weke gedien het as voorseisoense losmakers vir Paarlse spanne soos Young Peoples, Paarl Rugbyklub en verskeie streekligaspanne, het die ware Jakob uiteindelik aangebreek met die afskop van die 2010 rugbyseisoen. In die Superliga B-kompetisie skop Young Peoples af met ’n taai wedstryd teen die gevaarlike klubspan Hands & Hearts. Op die Faurestraat-stadion begin Paarl Rugbyklub sy ligaverpligtinge in die Premierliga A teen Stellenbosch Coronations. Die Paarl Streekspan kom in ’n weg-wedstryd te staan teen Langa. Die Paarl Streekliga skop ook Saterdag af, met wedstryde op die Daljosafat-sportvelde en op Windmeul United se sportveld. Op die Daljosafat-stadion meet Violets kragte teen Young Gardens, met Riverstones en Pêrel United wat op die Daljosafat A-veld sal koppe stamp. Op die Daljosafat C-veld speel Laer Paarl teen Vineyards en op die Daljosafat D-veld speel Young Standards teen Simondium. Windmeul United pak Allandale op Windmeul se velde. Nóg ’n Paarl Streekspan, Albions Rugbyklub, skop dié seisoen af met ’n loslootjie. In ’n ander wedstryd meet Paarl Rangers kragte teen Kylemore in ’n wegwedstryd.
More
News
|