Boland klop WP ná vier jaar
2010-04-08
DIE Boland se krieketskeidsregters het verlede Donderdagaand op Nuweland wraak geneem teen die skeidsregters van die Westelike Provinsie, toe eersgenoemde met 9 paaltjies geseëvier het in ’n Pro20-wedstryd. Dit was die eerste keer in vier jaar dat Boland dié tweestryd kon verower. WP het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Op 46/4 was WP vroeg reeds kniediep in die moeilikheid, danksy skitterende boulwerk deur Boland se Randall Williams, Deon Barron en Tyrone Williams. Dié trio het WP uiteindelik tot 109/7 beperk in hul toegelate 20 beurte. Dié boulers is ook goed bygestaan deur skitterende veldwerk deur Boland. Boland het gaan kolf en korte mette met die totaal gemaak. Deon van Kerwel het die WP-aanval met minagting behandel en 38 lopies (5x4 en 1x6) van net 31 balle gemoker. Paul Cilliers (25*, 3x4) het vir die afronding gesorg.
More
News
|