Edu steek tong uit
2010-04-08
DIE nuutgestigte Drakenstein Edu Krieketklub het ná afloop van die seisoen tong uitgesteek vir sy kritici deur twee Boland-trofees in sy vertoonkas staan te maak. Die klub moes deur ’n moeras negatiewe opmerkings veg en was uiteindelik beloon vir sy deursettingsvermoë. Dit is die eerste keer dat ’n klub in sy eerste bestaansjaar twee trofees inpalm. Drakenstein Edu se eerste span het vanjaar die Boland Reserwebeker, asook die Pro20-beker ingepalm. Edu se tweede span het ook die Pro20-beker verower, en beide die eerste- en tweede span het die Pro20-reeks onoorwonne afgesluit. Drakenstein Edu kan dus trots wees op sy leierskorps en spelers. Groot planne word reeds beraam vir aanstaande seisoen en nuwe idees gaan beproef word. Edu lok steeds van die voorste spelers in die Paarl, terwyl ’n paar ervare administrateurs reeds aangedui het dat hulle hul gewig agter Edu gaan ingooi. Die klub se toekoms lyk dus rooskleurig en hulle kan binnekort op hoër louere begin aanspraak maak.
More
News
|