Groot rugby-derby op Pelikaanpark
2010-04-08
IN ’n derbystryd wat jaarliks die monde laat water, kom Roses United eerskomende Saterdag te staan teen die span van CPUT-Wellington in ’n Boland Premierliga-derbywedstryd op Pelikaanpark. Die Rose is tans onoorwonne ná twee wedstryde en sal hard probeer om sy buurspan met die kous oor die kop huis toe te stuur. Tans speel CPUT-Wellington egter self kookwater-rugby en was ongelukkig om hul laaste wedstryd teen Saldanha te verloor. Die Rose kan soos gewoonlik ’n groot aanslag van die besoekers verwag aangesien ’n derby-stryd altyd sorg dat spelers ekstra gemotiveerd is. Soos gewoonlik sal die tweestryd voorlangs verwoed wees en die Rose sal swaar steun op sy drie meer ervare voorspelers, Ignatius Korabie (agsteman en kaptein), Shane Jacobs (slot) en Martin Nel (haker). Wellington sal hoop dat Albertus Buckle (haker) sy goeie spel van die afgelope tyd kan voortsit. Agterlangs behoort dinge ook baie interessant te verloop. Hier sal die Rose veral lugtig moet wees vir Jonathan Schalkwyk (senter) en Mervyn Manus (heelagter). Laasgenoemde twee spelers het voorheen vir Roses United gespeel, maar draf deesdae vir Wellington uit. Beide is ervare spelers en sal op die aanval baie werd wees vir die besoekers. Die Rose se agterlyn spog self met ervare spelers soos Brendan April, Manie Adams en Alvin Hugo. Dié drie spelers kan met hul provinsiale ervaring en natuurlike aanvalsbenadering die besoekers lelik laat bontstaan. In die geheel beskou, weeg dié twee spanne egter baie goed op en word ’n opwindende derby-kragmeting verwag. Toeskouers word gemaan om vroeg hul sitplekke in te neem aangesien ’n groot skare verwag word vir dié derby. Die hekke open om 12:00.
More
News
|