Voortrekkers laat vonke spat
2010-04-08
DIE vonke het gespat tydens die onlangse raadsvergadering van Drakenstein Munisipaliteit tydens ’n debat oor die hernuwing van die huurkontrak van die munisipale grond waarop die Voortrekkers se Wamakersvallei Kommando tans in Wellington gehuisves word. Dié grond word reeds vir die afgelope 37 jaar deur die Voortrekkers gehuur en die raad moes ’n aanbeveling, dat die huurkontrak vir slegs vyf jaar pleks van tien jaar geld, goedkeur. Aanvanklik het die administrasie voorgestel dat die kontrak vir die volgende tien jaar moet geld, maar die burgemeesterskomitee het aanbeveel dat dit nou net vyf jaar moet wees. Daarna moet die Voortrekkers weer aansoek doen. Johan von Wielligh van die DA het voorgestel dat die tienjaar-termyn goedgekeur moet word. Rean Smuts, DA-raadslid, het hom ondersteun deur te sê dat dit ’n rompslomp is om elke vyf jaar die kontrak te hernieu. Caudillo du Plessis, ANC-raadslid, het gereageer deur te sê dat “alle munisipale geboue in Wellington deur wit organisasies gehuur word”. “Dit is ’n bron van kommer dat dit nog steeds gebeur. Almal moet die munisipale geboue kan gebruik. “Ons kan nie die geboue vir ewig en altyd aan dieselfde mense verhuur nie. Dit is buite die nuwe Suid-Afrika se visie,” sê hy. Johan Rademeyer van die DA het gesê dat Du Plessis heeltemal van die merk af is: “Die Voortrekkers huur die grond alreeds die afgelope 37 jaar. Hulle het self die geboue opgerig en sover my kennis strek, is nog niemand gebruik van dié geboue geweier nie,” sê hy. Charmaine Manuel, burgemeester, het gesê dat daar verskeie organisasies is wat ’n behoefte aan geboue het. “Organisasies wat positiewe opheffing op munisipale grond doen, kan nie vanselfsprekend aanvaar dat hulle daardeur bevoordeel gaan word nie. “Die Raad sal moet toesien dat daar na alle eiendomme gekyk moet word wat aan organisasies verhuur word,” sê sy. Die Raad moes toe daaroor stem.Die vyfjaar-termyn, met 27 stemme (ANC-koalisie) teenoor 24 (DA-koalisie) is aanvaar. * The Drakenstein Municipal Council has voted to reduce the lease period of municipal property by the Voortrekkers in Wellington by five years.
More
News
|