Tragedie: Polisieman skiet vrou, homself
2010-04-08
Lise Beyers
TWEE families van Groenheuwel is die afgelope naweek in rou gedompel ná ’n gesinsmoord. Tydens die treurspel het konstabel Wayne Scheepers (35) eers sy vrou Antonet (33) doodgeskiet en daarna sy dienspistool op homself gerig in hul huis in Polonaisestraat. Vandeesweek het die gestorwe egpaar se ouers, Regina en Whilding Scheepers en Hendrik en Angeline Dass, saamgestaan om sin te probeer maak uit die tragiese voorval. “Hulle het soos enige ander egpaar ’n paar probleme gehad, maar ons het nooit gedink dat dit so ernstig is dat dit hiertoe sou lei nie,” het die bedroefde ma van Antonet gesê. “Hulle het al soveel bereik en het nog baie toekomsplanne gehad.” Wayne se ouers kon steeds nie glo dat hul lieflingskind na bewering sy vrou se lewe en toe sy eie geneem het nie. “Ons voel heeltemal leeg. Dit voel totaal en al onwerklik, amper asof ons net in ’n nagmerrie vasgevang is.” ’n Buurman, Edward Hugo, het gesê dat Saterdagaand heel rustig was in die buurt voor die voorval. “Dit was byna asof daar ’n feestelike atmosfeer in die lug was met die Paasnaweek, maar dit is skielik verbreek toe die eerste skoot geklap het. “Ek was by nog ’n buurman, maar toe ek op pad was huis toe, het ek iets hoor klap en gedink dat dit dalk net ’n klapper is. Maar toe ek oor die straat loop en oorkant die Scheepers woning was, het nog ’n skoot geklap. Ek het toe geweet dat dit ’n geweerskoot is. “Ek het na die voordeur van die huis gehardloop en die bokant van die deur was toe, maar die onderkant wel oop. “Ek het ingeloer en die liggame van Wayne en Antonet naby aan mekaar sien lê in ’n plas bloed op die vloer van hul voorkamer.” Die polisie en ambulans was vinnig op die toneel, maar die egpaar was reeds dood. Hul twee kinders was die aand onderweg na Caledon met Antonet se ouers. Bure het vandeesweek vertel dat die Scheepers familie heel vriendelike bure was, en dit het nie voorgekom of hulle ernstige huweliksprobleme gehad het nie. Wayne was gestasioneer by die Ocean-View polisiestasie in Kaapstad. In die woonvertrek van hul netjiese huis is sertifikate van uitmuntende polisiediens ’n getuigskrif van ’n toegewyde polisieman. Antonet het by ’n voedselfabriek in Wellington gewerk. Albei is oud-studente van plaaslike skole. Wayne was in New Orleans Sekondêr, en Antonet in Paulus Joubert. Die egpaar word oorleef deur hul twee kinders, Lindley Kok (16) en Mishay (5). * A policeman shot his wife before turning his firearm on himself.
More
News
|