Tiener met pistool teen kop beroof
2005-09-15
’n TIENERSEUN het nie geweet sy lewe sou so vinnig voor hom afspeel soos toe ’n pistool Maandagmiddag in die Paarlse middedorp teen sy kop gedruk is nie.
AJ le Roux (15) het in sy skoolklere deur die stegie tussen Van der Lingenstraat en Lady Greystraat gestap, toe hy ’n man sien staan waar Computicket se kantoor eers was.
“Die man was donker van kleur, so 1,8m en so 25 jaar oud, met ’n kaalgeskeerde kop en ’n blou trui om sy lyf geknoop,” vertel die geskokte seun.
“Toe ek by hom kom, het hy skielik ’n pistool uitgepluk en dit teen my kop gedruk.
“Die man het op Engels gedreig dat ek my selfoon en beursie moet gee, en toe hy dit het, toe sê hy ek moet hardloop, of hy skiet.
“My lewe het nog nooit so vinnig voor my geflash nie.”
AJ het tot by sy suster gehardloop waar sy op die hoek van Hoofstraat en Bethelstraat gewag het.
Hy was so geskok dat hy nie gekalmeer kon word nie, en mediese behandeling moes kry.
“Ek wil ander kinders waarsku dat hulle versigtig moet wees. Dit kan enige plek met enigiemand gebeur,” sê sy pa, André.
Die rower het verdwyn.
AJ, ’n graad agt leerder en Labori Hoërskool se o.15A rugbyskrumskakel, het nou pas herstel van ’n gebreekte neus, harsingskudding en ’n nekbesering wat hy tydens die Interskolewedstryd opgedoen het.
“Gelukkig het ons toé darem gewen,” sê hy.
“Maar nou moet ek op die eksamen probeer konsentreer.”
* A Paarl schoolboy was robbed at gunpoint.
More
News
|