Bolla lei Boland Kavaliers
2010-04-15
Jaco van Wyk
ERVARING kan eerskomende Saterdag die verskil tussen wen en verloor beteken vir die Boland Kavaliers, in ’n baie belangrike Vodakombeker-kragmeting teen die Oostelike Provinsie op Piketberg. Boland se afrigtingspan mag dus raakgevat het om die kapteinskap toe te ken aan twee van hul mees ervare spelers - die Springbokke Bolla Conradie en Hottie Louw. Met ’n bonuspunt-sege broodnodig vir die Kavaliers, sal Conradie sy troepe vanuit die skrumskakel-posisie aanvoer, terwyl Louw op slot as onderkaptein sal diens doen. Die Kavaliers sal wil voortbou op die oorwinning wat hulle verlede naweek teen Grens behaal het. Met twee drieë was die agtsteman Zandré Jordaan ’n groot uitblinker in Boland se 33-13 oorwinning, wat in Oos-Londen behaal is. Jordaan is tans deel van ’n baie suksesvolle lostrio-kombinasie saam met nóg ’n Springbok, Hilton Lobberts, en die hardwerkende oopkantflank, Franzil September. September was ook met ’n drie beloon teen Grens. Ander driedrukkers vir Boland was die agterspelers Lionel Cornelius en Willie le Roux. Eerskomende Saterdag se wedstryd teen OP skop 16:00 af op Piketberg. Boland se span is: 1. Janru van Niekerk; 2. Ashton Constant, 3. Raoul Larson, 4. Grant le Roux, 5. Hottie Louw (o.k), 6. Franzil September; 7. Hilton Lobberts, 8. Zandré Jordaan; 9. Bolla Conradie (k), 10. Lional Cornelius; 11. Jeremy Plaatjies, 12. Dewey Swartbooi, 13. PJ Vermeulen, 14. Cornal Hendricks, 15. Jaquin Jansen, 16. Roussouw Kruger, 17. Clement Lewis, 18. Nicolai Blignaut, 19. Andre du Toit, 20. Niel Papier, 21. Danré Gerber, 22. Hyron Thyse.
More
News
|