Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Tragedie van Paarl Print-brand herdenk

Tragedie van Paarl Print-brand herdenk
 
2010-04-15

Lise Beyers

’n JAAR het al verstryk ná die ergste tragedie in die geskiedenis van die Paarl en steeds sukkel families van slagoffers om vrede te maak met die tragiese verlies van hul geliefdes.

Saterdag sal dit presies ’n jaar wees sedert ’n verwoestende brand by die Paarl Print aanleg in Oosterlandstraat, Daljosafat, die lewens van 13 mense geëis het.

Agt werknemers (Patricia Stoffels, Joseph Johnson, Jenelle Pietersen, Hilton Blankenberg, Thys de Vries, Gerhard Mans, Marshall Diedericks en Marcelle Basson) het tydens die brand gesterf.

Die ander, Pieter Saayman, Danielle Albertyn, Sharon Adonis, Liezl Jacobs en Eric Peters, het later weens hul beserings in die hospitaal omgekom.

Lydia en Ernest Blankenberg, ouers van Hilton (34), ’n binderywerker, het vandeesweek gesê hul enigste seun bly in hul gedagtes.

En wanneer hulle van Hilton praat, vloei die trane steeds.

“Dit is soos gister wat hierdie verskriklike gebeurtenis plaasgevind het.

“Hilton het sy werk so baie geniet en hy was opgewonde om ná ’n week se rusdae daardie oggend weer te begin werk.

“Nadat ons na die toneel van die brandende fabriek ontbied is, het ons nog vas geglo dat hy veilig is.

“Selfs toe ons later huis toe gaan en die sekuriteitshek staan nog oop weens ons haas na die toneel, het ons binne toe gehardloop en geroep na hom. Maar dit was te tevergeefs.

“Sy hele lewe het nog voor hom gelê en hy is eensklaps van ons weggeneem.

“Ons wil steeds weet hoekom ons seun so tragies gesterf het by sy werksplek.”

Hannah Saayman het ten tyde van haar man, Pieter (58), se dood, ’n stryd teen kanker gevoer.

“Die jaar 2009 was verskriklik. Pieter se dood was ’n geweldige skok en steeds raak ek baie depressief daaroor.

“Ek het wel vrede daarmee gemaak en wil geen klippe gooi nie. Maar ek woon wel die openbare ondersoek by om moontlik uitsluitsel te kry oor wat gelei het tot die tragiese gebeure van daardie dag.”

Hannah is tans in remissie nadat sy met borskanker gediagnoseer is.

Wilma Johnson het vir byna 24 uur voor die smeulende puin van die Paarl Print aanleg gewaak terwyl daar gesoek is na haar man, Joseph, wat as passer-en-draaier by die fabriek gewerk het.

Deurgaans het sy gehoop en gebid dat hy lewendig gevind sou word, maar haar lewe het die Saterdagmiddag ná die brand onherstelbaar verander, toe reddingswerkers op haar man sy lyk afgekom het.

“Onder omstandighede gaan dit seker goed. Ek en my kinders is deur ’n baie rowwe tyd, maar ons is stadig maar seker besig om aan te pas.

“Die kinders was die weke ná Joseph se dood heeltemal deurmekaar, want hulle kon glad nie verstaan dat hul pa nie weer huis toe kom nie.

“Maar nou praat hulle baie oor hom, asof dit deurgedring het dat hy nie meer hier is nie.

“Een goeie ding wat hieruit gekom het, is dat ek ’n heel nuwe gesig van die Paarl gesien het.

“Daar gebeur sulke lelike dinge in ons dorp, maar ná die brand is ek oorval deur ondersteuning vanuit die hele gemeenskap wat hul harte vir my en die kinders oopgemaak het.”

Soos die meeste van die familielede van slagoffers, woon Wilma ook die ondersoek by Bolandpark by.

“Niks gaan my man terugbring nie, maar ek soek antwoorde oor wat gebeur het, en daarna sal ek eers volkome vrede kry.”

Maar dit is nie net slagoffers wat met die tragedie saamleef nie, ook reddingswerkers dink steeds met weemoed terug aan daardie noodlottige dag.

Die operasionele hoof van die Drakenstein Brandweer, Dereck Peceur, sug diep en skud sy kop as die Paarl Print-brand genoem word.

“Dit is beslis die ergste toneel wat ek in my 20 jaar as brandweerman beleef het. En hopelik sal ek nooit weer so iets moet beleef nie.

“Toe ek op die toneel aankom, kon ek sien dat die brand baie erg was, maar ek het aangeneem dat alles in plek was sodat alle werknemers veilig ontruim sou wees. Ek het by die kantore gaan hoor of dit wel so is en ek is in kennis gestel dat een mens vermis word.

“Ons het dadelik begin soek. Maar stadig maar seker, deur die loop van die oggend, het hierdie getal begin styg.

“Al ons personeel, insluitend dié wat van diens af was, is ontplooi.

“En soos wat die getal vermistes gestyg het, het my moed gesak, want in my binneste het ek geweet dat diegene wat binne vasgekeer is, dit nie sou oorleef nie.

“Ek sal die Paarl Print-brand nooit vergeet nie. Dit was ’n donker dag.”

* ’n Gedenkdiens word Vrydag vanaf 15:00 tot 16:00 gehou by die Paarl Media-gebou in Jan van Riebeeck-rylaan.

* A year after the tragic Paarl Print fire, families are still battling to come to terms with their loss.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za