Dak-insulasie by Paarl Print verkeerd geÏnstalleer
2010-04-15
Sieb Sieberhagen
VANDEESWEEK is die blaam vir die vinnige verspreiding van die Paarl Print-brand vierkantig op die skouers van die installeerder van die isolasiemateriaal wat in die fabriek se dak gebruik is, geplaas. Trevor Henwick, verkoopsbestuurder van Sagex wat die verskaffer van die Kulite isolasiemateriaal is, is Dinsdag hieroor uitgevra tydens die tweede ronde van die openbare ondersoek na die oorsaak van die brand. Henwick was destyds in beheer van die Kulite-installasie by Paarl Print. Volgens dr Philip de Vos, ’n branddeskundige wat tydens ’n vorige geleentheid getuig het, kon Kulite bygedra het dat die brand teen ’n spoed van tot twee meter per sekonde versprei het. Henwick het dit Dinsdag ontken, omdat daar in 1986 toetse gedoen is wat bewys het dat Kulite van 20 mm dikte nie brande laat versprei nie. Dit word in rame gemonteer en as dit verhit, krimp dit en val op die grond. Maar by Paarl Print is dikker lae gebruik (40 mm) en dit is aan die balke vasgekap, en van onder met dwarslatte gestut, pleks daarvan dat dit in rame geplaas is. Verder het dit ook vandeesweek aan die lig gekom dat die dokument wat heel waarskynlik beroepsveiligheid se moets en moenies by die Paarl Print fabriek omskryf het, ook in die brand vernietig is. Mike Ehret, voormalige besturende direkteur van Paarl Print, is Maandag deur Richard Spoor, regsverteenwoordiger van die vakbond Ceppwawu, ondervra oor aspekte van beroepsveiligheid en of daar ’n stelsel in plek was wat risikobepalings gedoen het. Ehret het bevestig dat ’n risikobepaling van die papierstoor net genoem het dat die guillotine ’n groot gevaar inhou. Daar word geen melding van brandgevare gemaak nie. Op vrae van Spoor of daar ’n geskrewe dokument oor beroepsveiligheid bestaan het, kon hy nie met sekerheid antwoord nie. Paarl Print se regsverteenwoordiger, Warren Beech, het gesê dat dié beleidsdokumente in die brand vernietig is. Ehret het bygevoeg dat hy nie self veiligheidskwalifikasies het nie, en dat hy hom beroep het op Frans Rossouw, die fabrieksbestuurder, en André van Niekerk, die veiligheidsbeampte, wanneer dit by veiligheidsaspekte kom. Ehret het erken dat hy die noodplan-prosedures afgeteken het, omdat die mense wat dit opgestel het, bekwaam was. Volgens Spoor verwys die dokument nie na nooduitgange nie en sê ook nie watter deure oop is nie. “Al waarna die dokument verwys, is aspekte soos kalm bly en in rye stap. Daar word nie verwys na noodontruimingsaksies, alarmstelsels en kommunikasie tydens noodgevalle nie.” Spoor het ook genoem dat Ehret kragtens wet verantwoordelik was vir die veiligheidsaspekte van Paarl Print. Die Departement van Arbeid het die ondersoek geloods om vas te stel of die Wet op Gesondheid en Veiligheid oortree is en of so ’n oortreding tot dié brand aanleiding gegee het. Indien hulle bevind dat die wet oortree is, kan hulle die saak na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys. Dit is reeds die derde week dat die ondersoek aan die gang is en sal op 3 Mei voortgesit word.
More
News
|