Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Dienslewering staan stil

Dienslewering staan stil
 
2010-04-15

Lise Beyers

DIENSLEWERING in Drakenstein het vandeesweek tot stilstand gekom, toe honderde munisipale werkers verbonde aan Samwu aan ’n weeklange landwye staking deelgeneem het.

En terwyl die meeste stakende werkers Maandagoggend tuis gebly het, het woedende belastingbetalers oënskynlik hul eie oorlog geloods teen die Munisipaliteit hieroor, deur rommel te stort by die oorlaaistasie in Distillerystraat, Paarl, en by die Wellingtonse stortingsterrein.

In Distillerystraat is vullis sommer in die middel van die straat gestort, wat die verkeer erg belemmer het. Baie inwoners se vullis is laas vóór die Paasnaweek verwyder, en dromme loop oor.

Om sake te vererger, is rommel en bande by die Wellington stortingterrein vroeg Maandagoggend deur stakers aan die brand gesteek, om hul misnoeë te toon omdat hulle meen hulle word onregverdig behandel.

Sekuriteitswagte het die gebied beveilig, maar steeds het die teenwoordigheid van hierdie wagte nie inwoners gestuit om hul vullis hiér te strooi nie.

Munisipale werkers se klagtes spruit oudergewoonte uit ontevredenheid oor salarisse, maar vanjaar eis hulle ook ’n werksevalueringstelsel waarvolgens alle poste binne die plaaslike regeringsektor gekategoriseer sal word.

Hulle eis ook dat prokureurs nie aangestel moet word in tugverhore teen munisipale werkers nie, en dat hierdie kostes eerder teruggeploeg word in dienslewering.

Belastingbetalers is erg ontwrig toe hulle by dooiemansdeur aangeklop het by munisipale kantore in die gebied, wat gesluit was uit vrees vir die stakers.

’n Optog van sowat 200 stakers het later die oggend in Lady Greystraat gemarsjeer onderweg na die Paarlse burgersentrum, terwyl nog ’n paar honderd stakers verkies het om rustig langs die pad te sit en toekyk.

Een munisipale werker is by die burgersentrum in hegtenis geneem vir oproerigheid.

Die brandweerstasies in Mbekweni en Wellington moes hierdie week hul deure sluit, nadat stakers na bewering Sondagnag klippe deur hul vensters gegooi het, asook voertuie se bande afgeblaas het.

Geen nooddienswerkers het gestaak nie.

Dinsdag het stakende werkers personeel en kliënte verwilder vanuit die biblioteek in Wellington en hulle het dieselfde probeer doen by die wetstoepassingskantore by die stadsaal. Die hoof, Francois Davids, en sy personeel het geweier om hul poste te verlaat, en die hulp van die polisie is ingeroep om stakers in toom te hou.

Munisipale woordvoerder May Carolissen, het gesê sommige munisipale werkers asook private kontrakteurs het die strate help skoonmaak.

* Drakenstein came to an administrative halt this week, as hundreds of local municipal workers joined in the countrywide strike.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za