MAANDAGOGGEND, 5 April, om en by 09:45 het my ouers en ek in die rigting van Suider-Paarl gery. By Droomers se spoedwal het ’n swart Opel Corsa bakkie met CN registrasie verbygejaag aan die linkerkant.
Ná die spoedwal het hy die sperstreep doodeenvoudig verontagsaam en nog drie voertuie probeer verbygaan wat reeds gestop het vir die rooi lig by die voetgangeroorgang voor Huis Vergenoegd ouetehuis.
Drie ouer dames van Huis Vergenoegd was al op die voetgangeroorgang. Die jong man in die Corsa bakkie het nie gelyk asof hy van plan was om te stop nie.
Die voertuie by die rooi lig het vir hom getoet om hom te waarsku oor die voetgagners. Hy moes toe noodgedwonge in die aankomende verkeer se baan gaan stilstaan sodat die dames kon oorstap.
Die ander motoriste was duidelik ontstoke, maar hy het slegs vir hulle tekens gewys.
By Courtrai Motors het ons stilgehou om brandstof in te gooi toe ons die jong man sien stilhou by die motorhawe aan die oorkant van die pad om ’n vriendin wat met die bus gekom het, op te tel. Al die gejaag, net om ’n vriendin op te laai - skande!