ONS gesin is baie hartseer dat ons klein wit katjie Vrydag 16 April deur iemand voor ons woonstel in Meulstraat doodgery is.
Die hartseerste is dat die katjie nie eers ’n “kat se kans“ gehad het nie, want sy is stokdoof gebore!
Ek het by ’n vorige geleentheid, vroëer in die week, gesien hoe jong seuns in ’n motor op pad skool toe in dieselfde straat reguit op die katjie afpyl waar sy vanaf die kerk oorkant die straat probeer om terug woonstel toe te hardloop.
Daar is nie eens effens spoed verminder of uitgeswenk om die katjie te probeer misry nie!
Dit was toe mis, maar Vrydag was dit wel raak.
Ek weet nie wie die katjie raakgery het nie en wonder of die persoon wel betyds was waarheen hy/sy ook al so haastig op pad heen kon gewees het.
Motoriste en motorfietsryers probeer so vinnig moontlik soveel moontlik spoed optel vanaf die indraai voor die biblioteek tot by die eerste spoedwal wat aangebring is, by die Laerskool Gimnasium.
Ek is seker dat die meeste van die jaers baie naby of wel teen meer as 60km/h verby ons ingang jaag.
Blykbaar is Meulstraat net ’n manier om vinniger aan die ander kant van die dorp te kom.
Ek beleef dat byna geen persoon in elk geval ordentlik stop by ’n gewone stopstraat nie.
Die meeste mense stop met ten minste hul voertuig se eerste helfte verby die witstreep waaragter die voorwiele veronderstel is om te wees indien hulle wel stop.
In die toekoms kan ’n kind in plaas van ’n troeteldier doodgery word in hierdie straat.
Philip