Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sy wou haar kinders red

Sy wou haar kinders red
 
2005-09-15

Malané Bosman

’n OUMA van Paarl-Oos het verlede week, met haar liggaam in vlamme gehul, ’n pad na veiligheid vir haar twee dogters en haar kleinkind verseker.

Sylvia Jacobs (40) was daarná dae lank in ’n koma in die Paarl Hospitaal, terwyl die man wat haar aan die brand gesteek het voor die polisie en ondersteuners van die familie, uitgevlug het.

“Dis ’n wonderwerk dat sy lewe, maar daar wag ’n lang en hobbelrige pad vorentoe vir haar,” het ongevallehoof dr Jacobus Louw gesê.

Die vermeende brandstigter, Irvill Simons (23) het Woensdagnag verlede week met ’n kan petrol in die hand die voordeur van die Jacobs-woning op die hoek van Solomonstraat oopgeskop.

Binne het sy dogtertjie en haar ma geslaap.

Ouma Sylvia het wakker geword en in die sitkamer op Irvill afgekom.

“Sy het met hom gestoei,” het haar skoonsuster Shahida vertel.

Strale petrol het deur die lug getrek en haar nagklere deurweek, voordat ’n vuurhoutjie getrek is.

Sylvia het moedig na haar dogters Natasha (23) en Sylverna (17) in die slaapkamer geroep om na veiligheid te hardloop.

Sy het haar arms uitgestrek en met haar brandende liggaam die vlamme in die sitkamer gekeer sodat hulle met haar kleinkind, Roché (3) kon vlug.

Haar broer, Dalleel Jacobs, het uit sy deel van die woning aangehardloop gekom, waarop die brandstigter verdwyn het.

Sylvia het intussen in die bad geklouter en water oor haar getap.

“Sy het hier by ons op die rusbank gesit en gewag vir die ambulans, met ’n handdoek om haar lyf en velle wat van haar liggaam afval,” onthou Shahida.

“Sy was net bly sy kon haar kinders red.”

Sylvia het in die hospitaal in ’n koma verval.

“Sy het 60 persent uitwendige brandwonde en daar is nie genoeg onbeskadigde vel vir oorplantings nie.

"Maar die dokters is nog meer bekommerd oor die inwendige brand wat haar slukderm en stembande aangetas het.”

Sylvia het die naweek wonderbaarlik begin herstel.

Maandag het sy gesels en Dinsdag was sy sterk genoeg vir ’n eerste operasie ter voorbereiding van toekomstige veloorplantings.

Simons, ’n Rastafariër van Harperstraat 56, is Sondag in hegtenis geneem. Volgens die Jacobs-familie dreig hy glo lankal om die huis af te brand.

“Dis nadat Natasha die verhouding twee maande gelede beëindig het.
Hy kon steeds sy dogtertjie sien.”

Die dae ná die brand is Simons deur die strate en stegies van Paarl-Oos gejag terwyl hy elke dan en wan buite die Jacobs-woning gesien is.

“Hy was uittartend. Ons was baie bevrees dat hy dit nog kon regkry om Roché en haar ma leed aan te doen.”

“Hy moet wens die polisie kry hom eerste,” het vriende van die familie verlede week gesê.

Simons het na Worcester gevlug, en is met sy terugkeer deur Paarl-Oos speurders aangekeer. Hy bly in aanhouding.

“As dit nie was vir die bure en hul water-emmers nie, het die hele huis afgebrand,” het Shahida hierdie week gesê terwyl die gesin die swartgebrande mure afgewas het sodat hulle weer kon intrek.

“En as dit nie vir my dapper skoonsuster was nie, het die kinders dalk almal in die vlamme gesterf. Sy het nie een oomblik aan haarself gedink nie, net aan hulle.”

* A Paarl woman sustained severe burns while protecting her children after an arsonist had set fire to her house.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za