Emosionele diens vir slagoffers
2010-04-22
Lise Beyers
EMOSIONELE tonele het Saterdagoggend by die perseel van die afgebrande Paarl Print boeke-aanleg plaasgevind, tydens ’n roerende kranslegging vir die 13 slagoffers van die brand. In teenstelling met die chaos wat presies ’n jaar gelede hiér geheers het, was daar ’n kalm, maar swaarmoedige, gevoel onder die klein groep familie en vriende wat deelgeneem het aan die seremonie. Slegs die kantoorgebou van die aanleg staan nog onveranderd, maar die fabrieksgeboue waar die brand plaasgevind het, is tot teen die grond afgebreek en verwyder. Die perseel is tans in die mark. Pastoor Eben Maurice wat die skriflesing behartig het, het gesê dat die tragiese gebeurtenisse van 17 April 2009 bewys hoe kort die lewe is. “Binne enkele minute het talle mense se lewens onherroeplik verander. Dit wys vir ons dat die lewe kort is en dat ons ons tyd, geleenthede en woorde goed moet benut. “Niks kan ons geliefdes terugbring nie, maar hulle sal altyd by ons bly.” Mike Ehret, voormalige uitvoerende beampte van Paarl Print, het gesê dat op dié dag moet die heldhaftigheid van die oorledenes onthou word. “Die gebeurtenisse is nie maklik om te verstaan nie. Ons sal hulle nooit vergeet nie.” Hierna is kranse gelê by die voordeur van die kantoorgebou. Daarna het familielede in stilte met weemoed kerse aangesteek ter nagedagtenis aan hul geliefdes. Dit was duidelik dat die gebeure van daardie tragiese dag steeds lank gaan spook by naasbestaandes. * A memorial service was held for the 13 victims who died during the Paarl Print fire last year.
More
News
|