Vrae oor fabriek se veiligheid
2010-04-22
Sieb Sieberhagen
TYDENS die tweede sessie van die ondersoek na die Paarl Print brand wat deur die Departement van Arbeid in die Paarl gehou word, is getuienis aangehoor oor hoe die gesondheids- en veiligheidsaspekte binne die fabriek daar uitgesien het en watter isolasiemateriaal in die dak gebruik is. Spesiale roudienste vir die 13 oorledenes is verlede Vrydag en Saterdag gehou. In verlede week se ondersoek is dit uitgelig dat Paarl Print vir die afgelope paar jaar verskeie mense aangestel het om die beroepsveiligheidsaspekte van dié fabriek te hanteer. Dit is steeds ’n onbeantwoorde vraag oor wie verantwoordelik was vir beroepsveiligheid by Paarl Print. Die meeste aanstellings is skynbaar mondelings gedoen. Kobus Nel het getuig dat hy in 2006, nadat Rudi Burger bedank het, verantwoordelik was vir die beroepsveiligheid in die fabriek. In Junie 2007 is Portia Lamb aangestel as beroepsveiligheidspesialis. Sy was net vir ongeveer ’n jaar in die pos en volgens die getuienis het sy een risiko-analise vir die boekestoor gedoen. Nel het getuig dat Burger toe weer as veiligheidskonsultant aangestel is, omdat die werk baie aandag geverg het. Burger het in die twee maande van sy aanstelling as konsultant die fabriek net twee keer per week besoek. Nel, wat homself nie as kenner van beroepsveiligheid beskou nie, het verder getuig dat hy aspekte van veiligheid gereeld onder die aandag van die bestuur gebring het. Hy kan egter nie onthou of sy aanstellingsbrief hom ook aanspreeklik vir beroepsgesondheid en -veiligheid gemaak het nie. Richard Spoor, Ceppwawu se prokureur, het aan hom gesê dat sy getuienis nie strook met Rudi Burger se getuienis nie. David Longworth, direkteur van die boukontrakteurs Longworth & Faul, het getuig dat hulle nie verantwoordelik was vir die nakoming van die bouregulasies nie. Hy het gesê dat dit die verantwoordelikheid was van Nortjé en De Villiers Raadgewende Ingenieurs (die projekbestuurders). “Ek was nie bewus dat die gebou nie aan verskeie brandregulasies voldoen het nie. Ons was nie betrokken by die keuse van die isolasiemateriaal, Kulite, nie.” ’n Duurder produk is glo oorspronklik aanbeveel. Die ondersoek word weer van 3 tot 7 Mei voortgesit.
More
News
|