Deurbraak in koperkabel-diefstal
2010-04-22
DIE polisie op Wellington glo dat hulle ’n deurbraak gemaak het in die vlaag van koperkabel-diefstal in dié gebied. Dit volg nadat twee mans verlede week in hegtenis geneem is toe hulle koperkabels aan ’n skroothandelaar verkoop het. ’n Werknemer van Mr Metal, ’n skroothandelaar op Wellington, het die polisie in kennis gestel nadat twee mans 27kg koperkabels by die handelaar verkoop het. Die polisie is dadelik na die toneel en die werknemer het die twee mans aan hulle uitgewys. Die mans, glo broers, is onwettige immigrante van Zimbabwe en gebruik die name Johannes en Mthemba Maseko. By verdere ondersoek, het die polisie vasgestel deur hulp van die skroothandelaar se register, dat die broers tydens die afgelope maand reeds elf keer koperkabels hiér verkwansel het. Die plastiek-omhulsel van die kabels word eers verwyder en dan word die kabels onherkenbaar gebrand en gekap, voordat dit na die skroothandelaar geneem word. Die totale waarde van al die koper wat vermoedelik deur hierdie twee broers by Mr Metal verkwansel is, is R100 000. Maar hulle het slegs R20 000 in hul sak gesteek hiervoor. Onlangs het plase in die omgewing van die Bergrivier erg deurgeloop onder skrootdiewe. ’n Woordvoerder van die Wellington polisie het gesê dat sedert die twee broers se inhegtenisname, was daar nog nie weer ’n saak van kabeldiefstal gerapporteer nie. * Wellington police officers believe that they have made a breakthrough in the recent spate of copper cable theft in the area, after the arrest of two illegal immigrants.
More
News
|