Polisieman sterf in ongeluk
2010-04-22
Lise Beyers
LEDE van Groot Drakenstein polisiestasie was vandeesweek sprakeloos ná die dood van ’n kollega. Sondagoggend het ’n polisiebeampte van Klapmuts polisiestasie op ’n ongelukstoneel afgekom tydens ’n roetinepatrollie. Hy het eers gedink dat die motor verlate in ’n veld gelaat is, maar by nadere ondersoek het hy op die liggaam van adj Paul van der Westhuizen afgekom. Dit is onseker presies hoe laat die ongeluk op die pad tussen Klapmuts en Simondium plaasgevind het. Daar word vermoed dat Van der Westhuizen aan die slaap geraak het agter die stuur van sy wit VW Polo, waarna die motor die pad verlaat het en in ’n veld gerol het. Van der Westhuizen is uit sy motor geslinger en is aan ernstige kopbeserings dood. Van der Westhuizen van Groenheuwel het 18 jaar se diens agter die rug by die Groot Drakenstein polisiestasie. ’n Woordvoerder van hierdie stasie, konstabel Rionel Uithaler, het gesê dat hul kollega se afsterwe ’n groot verlies is. “Paul was ’n volwaardige polisiebeampte wat uitgestaan het in sy werk. Ons gaan hom baie mis.” Hy word oorleef deur sy vrou Carin en seuns Allistair (14) en Houston (7). Van der Westhuizen se begrafnis vind Saterdag om 09:00 plaas by die huis in Interludestraat 22, Groenheuwel, en daarna om 11:00 by St Simon Kerk, Simondium. * Nog ’n polisieman is tydens ’n motorongeluk ernstig beseer. Quinton Cupido was verlede Woensdagnag vanaf Klapmuts polisiestasie onderweg na ’n noodgeval, toe hy beheer verloor het oor sy patrolliewa. Die voertuig het op die ou-Paarlpad gerol en Cupido het onder andere ’n ernstige rugbesering opgedoen. Hy is na Paarl MediClinic geneem, waarna hy na Groote Schuur hospitaal vervoer is per helikopter vir ’n noodrugoperasie. Sy toestand word beskryf as ernstig, maar bevredigend. * A policeman of Groot Drakenstein has died in a car crash.
More
News
|