Skool in rou ná matrikulant se dood
2010-04-22
Lise Beyers
DIE Klein Nederburg Sekondêre Skool is vandeesweek in rou gedompel ná die mes-dood van ’n gewilde leerder. Reagan Wessels (18) is Saterdagmiddag voor die oë van vriende doodgesteek naby Shoprite in Klein Drakensteinweg, Paarl-Oos. Wessels en sy vriende het omstreeks 16:30 verby ’n groentestalletjie gestap, toe ’n jong man hom gryp en hom sonder waarskuwing in die bors steek met ’n mes. Reagan is kort ná sy aankoms by Paarl Hospitaal oorlede. Die vermeende aanvaller en Reagan was glo ’n maand gelede in ’n onderonsie betrokke. Die verdagte en sy makkers het na bewering leerders van Klein Nederburg gedwing om hul selfone aan hulle te oorhandig. Toe Wessels weier, is hy aangerand. Lusane Hendricks (20) is in hegtenis geneem in verband met Wessels se dood. Maandagoggend, terwyl die eerste winterreëns neergesak het, het die trane gevloei tydens ’n roerende gedenkdiens vir Wessels by sy skool. Hy is deur leerkragte en leerders beskryf as ’n uiters gewilde en geliefde seun, na wie sy mede-leerders opgekyk het. Wessels was ’n kranige rugbyspeler en speel sedert die ouderdom van 16 vir sy skool se eerste rugbyspan. Hy is verlede Vrydag aangewys as gees-leier van die skool. Sy ouers, André en Rachmat, is platgeslaan deur hul seun se ontydige dood. “Sy hele lewe het voor hom gelê. Hy was baie opgewonde oor sy matriekjaar. “Reagan wou ná skool ’n loopbaan in die polisie begin, juis om misdaad te bekamp. Nou is hy so wreedaardig vermoor. “Ons is baie ongelukkig oor die feit dat sy aanvaller na slegs ’n dag in die selle op R500 borgtog vrygelaat is. “Hy het ’n wrede moord gepleeg en moet daarvoor boet.” Wessels sou oor ’n maand sy negentiende verjaarsdag gevier het. Sy begrafnis vind Saterdag om 09:00 plaas vanaf die Wessels-woning te Jacobsstraat 40, en daarna om 10:00 by die Annunciation Kerk. Reagan word oorleef deur sy ouers en ouer broer Wallied. * A promising high school sportsman has been stabbed to death.
More
News
|