HJS en Gim se ou manne slaags
2010-04-22
DIE Old Boys van Hoër Jongenskool en Hoërskool Gimnasium was onlangs slaags in hul heel eerste ‘dag-aand’ interskole-wedstryd.
Vir baie van die ou manne was dit die eerste geleentheid om onder spreiligte te speel. Tesame met die ondersteuning van Gim se koshuiskinders, was die atmosfeer ’n bietjie skerper as gewoonlik. Gim het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Ná vyf beurte was selfs die mees-getroue Boishaai-ondersteuner verslae, met Gim op 72 vir 1. Op dié tydstip het die voormalige Springbok, Louis Koen, nog nie eens gekolf nie. Met vasbeslote veldwerk en beter boulwerk het HJS teruggeveg om vir Gim te bring op 143 vir 10 ná 20 boulbeurte. HJS se kolwers het hul boulers se voorbeeld gevolg en die teiken van 144 lopies gehaal, met 4 paaltjies staande. Ná afloop van die wedstryd het die manne egter hul vriendskapbande versterk tydens ’n geselligheid, waar die POBC wisseltrofee aan HJS se Old Boys oorhandig is. HJS se ou-manne het onlangs ook ’n wedstryd teen ’n gekombineerde 3de/4de-span van Van der Stel Kkrieketklub gespeel. Teen die ouer manne van die Paarl, was dié wedstryd beslis nie ’n maklike een vir die studente van Stellenbosch nie. Met agt beurte oor het HJS hul opponente se telling (160 lopies) verbygesteek met slegs vier paaltjies plat.
More
News
|