Albions seëvier met intrapslag
2010-04-22
Jaco van Wyk
DIE Albions-rugbyklub het Saterdag, in hul eerste proesel streekrugby, ’n oortuigende 44-16 oorwinning behaal oor die span van Pêrel United. Die eerste helfte van dié wedstryd, wat op die Daljosafat-sportterrein plaasgevind het, was baie gelykop, met die rustydtelling 13-9 in Albions se guns. Die wenspan het egter die krane oopgedraai in die tweede helfte, wat sewe drieë tot gevolg gehad het. Clinton Simonse (2 drieë), Alroy Arendse, Elrico Pietersen, Alvin Williams, Bradwin Arendse en Gillmore Watts het vir die drieë gesorg, met Watts wat ook drie doelskoppe aangeteken het. Lincoln du Preez het met ’n skepdoel geslaag. Albions II het 51-0 gewen en Albions III het 29-10 gewen. * In ’n taai wedstryd het Vineyards Saterdag vir Young Standards 10-3 geklop op die Daljosafat-stadion. Vineyards se tweede span het 24-10 gewen en die derde spanne het 15-elk gelykop gespeel. * Op die Daljosafat A-veld het Laer Paarl Saterdag ’n oortuigende 30-10 oorwinning oor Allandale behaal. Laer Paarl II het 32-12 gewen en Laer Paarl III het 24-3 geseëvier. * Windmeul United het vir Violets 16-9 geklop op die Daljosafat-sportgronde. Violets II het 12-7 gewen en Violets III het 8-0 gewen. * Simondium en Riverstones het Saterdag 25-elk gelykop gespeel op eersgenoemde se tuisveld. Simondium II het 8-7 gewen en Riverstones III het 27-7 gewen. * Gardens het Saterdag ’n loslootjie gehad.
* Eerskomende Saterdag se wedstrydbepalings: Paarl Streekspan vs Van der Stel (Daljosafat-stadion); Laer Paarl vs Violets (Dal C); Riverstones vs Vineyards (Dal D); Albions vs Simondium (Simondium); Young Standards vs Allandale (Drakenstein); Windmeul United vs Young Gardens (Windmeul).
More
News
|