Skole skop af
2010-04-22
Jaco van Wyk
PLAASLIKE skolerugbyspanne gaan vanjaar weer ’n doring in die vlees wees van menige opponent. Die seisoen is nog jonk en ’n opskudding of twee kan beslis verwag word. Met slegs ’n paar vriendskaplike wedstryde agter die blad, en die liga-wedstryde wat amptelik eers Saterdag afgeskop het, tel die name van Boishaai, Gim en Landbouskool egter reeds onder die aanspraakmakers vir ’n plek onder Suid-Afrika se top tien later vanjaar. Die Hoër Landbouskool Boland het Saterdag sy ligaverpligtinge in Agter-Paarl afgeskop met ’n naelskraapse sege oor Bishops. Maklik was dit nie vir die Paarliete nie. Landbouskool het uiteindelik 15-13 koning gekraai, maar kon nie ’n enkele vyfpunter behaal nie. Hierteenoor het Bishops twee drieë aangeteken. Werner Joubert het vier strafdoele aangeteken vir die wenspan en Phillip Molnaar het geslaag met ’n skepdoel. * Hoërskool Gimnasium het Saterdag, in ’n wegwedstryd teen Rondebosch, maklik met 59-6 gewen. Met die telling 12-6 vir die Gimmies teen rustyd, het hulle 19-6 voorgeloop sowat 20 minute voor die einde. ’n 40-punt blitskrieg in die laaste kwart van die wedstryd, het egter dié oorwinning in ’n slagting verander. Gim se drieë is gedruk deur Jacques Botha (2 drieë), Niel Claassen (2 drieë), Conrad Loubser, Carlo Theron, Gideon Morris, Genis du Toit en Lance Ruthford. Ruthford het 7 doelskoppe behaal. * Op George het die manne van Hoër Jongenskool met 22-17 geseëvier teen Outeniqua. Boishaai se driedrukkers was Heinrich Boje, Lionel Abrahams en Stephan Coetzee. * In ’n taai kragmeting het Hoërskool Hugenote geseëvier teen Klein Nederburg Sekondêr. Hugenote het 25-17 gewen, met drieë deur JP Jacobs, Landolf Theron, Hannes du Toit en Paul Saayman. Maree Kotzé het een strafdoel en ’n doelskop bygevoeg. KN se drieë is gedruk deur Leroy Bitterhout (2 drieë en ’n doelskop) en Cornell van Sittert. * New Orleans Sekondêr het verlede Donderdag ’n oortuigende 42-5 sege oor Paulus Joubert behaal, op die Daljosafat-velde. New Orleans se driedrukkers was Danwill Hermanus (3 drieë), Raoul Kulsen, Zubair du Plessis, Damien Engledoe en John Jantjies.
More
News
|