Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Raad dink weer oor Cultivaria

Raad dink weer oor Cultivaria
 
2010-04-22


'n AMPTELIKE navorsingstudie het onteenseglik bewys dat die jaarlikse Cultivaria kunstefees aangebied deur FNB en Drakenstein Munisipaliteit, ’n groot finansiële bydrae maak tot die koffers van die gebied.

Ondanks dié goeie nuus het Drakenstein Munisipaliteit, ná verlede week se Burgemeesterskomiteevergadering, besluit om ’n spesiale vergadering te reël om hul finansiële bydrae tot dié fees te bespreek.

Tydens verlede week se vergadering is ’n bedrag van R380 000 voorgestel, maar nie goedgekeur nie.

Burgemeester Charmaine Manuel sê dat toekenning van geld aan feeste ’n groot uitdaging bied.

“Ons wil nie beskuldig word dat ons sekere feeste bevoordeel nie. Ons het ’n beleid rakende feeste en moet daarvolgens handel. Ons moet 100% seker maak.

“Verlede jaar het Drakenstein ondanks die finansiële bydrae ook dienslewering ter waarde van R1,2 miljoen gelewer aan Cultivaria,” sê sy.

Volgens ’n onafhanklike studie deur die Universiteit van Potchefstroom se Instituut vir Toerisme en Ontspanning-studies het die 2009 fees, ten spyte van ’n wêreldwye resessie, ’n ekonomiese impak van meer as R13 miljoen op die ekonomie van Paarl gehad.

Die studie, wat gedoen is onder feesgangers, besighede en inwoners van die Paarl, het getoon dat die gemiddelde bedrag wat deur elke feesganger bestee is, bykans R1200 beloop.

Altesame 63% van die besighede wat aan die studie deelgeneem het, het aangedui dat hulle omset en handelsgeleenthede tydens Cultivaria toegeneem het.

In 2009 kon Cultivaria met ’n gemiddelde kaartjieverkope van 79% oor alle produksies spog, wat die hoogste besettingsyfer van enige fees in die land is.

Met verkope van 33 058 kaartjies verlede jaar, het die fees ’n groeisyfer van 55% getoon sedert 2006.

Volgens feesdirekteur Gerhard Meyer bevestig hierdie groeisyfer die lewensvatbaarheid van Cultivaria.

“Sedert die ontstaan van Cultivaria vier jaar gelede, is ons die enigste fees in Suid-Afrika om jaarliks ’n beduidende groei in terme van kaartjieverkope te lewer.

“Die onlangse studie het bepaal dat ons feesgangers gemiddeld 3,3 vertonings bywoon. Dit is verder ook bemoedigend om te sien dat ons al hoe meer feesgangers uit ander streke trek. In 2009 was 13% van ons feesgangers uit Gauteng afkomstig,” meld Meyer.

Meyer is van mening dat Cultivaria van groot belang is in die vestiging van Paarl en die wyer Drakenstein-gebied as ’n aanloklike toerisme-bestemming.

“Volgens ’n Newsclip oudit, het die fees die afgelope vier jaar meer as R73 miljoen se publisiteit vir die Paarl en omgewing gegenereer.

“Die fees lewer ook ’n konkrete bydrae tot inwoners se persepsie van die dorp en 63% van inwoners wat aan die steekproef deelgeneem het, het aangedui dat hulle meer positief en trotser op die Paarl is vanweë Cultivaria.

“Die fees dien ook as ’n bewys van die organisasievernuf, kwaliteit van dienslewering en waardeproposisie wat Paarl as ’n dorp aan besoekers kan lewer.”

Die fees se impak strek ook wyer met ’n sterk fokus op werkskepping en opleiding. Slegs inwoners van Drakenstein word in diens geneem vir poste tydens die fees.

Cultivaria ken verder jaarliks ’n studiebeurs toe aan ’n skolier uit die Drakenstein-omgewing vir naskoolse studies. Dit dek klasgelde, boeke en losiesfooie. Die eerste ontvanger van die beurs, Gabby Jaftha, voltooi vanjaar haar driejarige diplomastudies.

“Cultivaria het tydens die afgelope vier jaar ’n ongelooflike sosiale en ekonomiese impak op die Paarl gehad. Ek reken dit sou kortsigtig wees om nie nou ’n breër toekomsvisie te ondersoek nie.

“Dalk moet ons die voordele van ’n langer Cultivaria-fees, wat regoor die hele vallei vanaf Wellington tot in Franschhoek strek, oorweeg,” sê Meyer.




More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za