DIE een vraag wat André Swiegers die afgelope tyd gereeld moes beantwoord, was: “Wanneer bring jy weer ’n slag ’n nuwe CD uit?”
En hier is dit nou eindelik, die album waarvoor baie van ons so geduldig moes wag en sy eerste sedert Groen vier jaar gelede.
André is op Woensdag 28 April om 20:00 by die Ou Meul-teater te sien.
Soos ’n goeie Bolandse Pinotage gaan lê dié man se musiek nie net op die punt van jou tong nie, maar diep in jou sintuie. ’n Mens kan hoor dat André ’n ou geoefende hand is wat gemaklik, rustig en in voeling met sy musiek en lirieke is.
Bakhandmaan vertel ’n storie agter ’n storie – so geskryf dat jy self jou eie storie daarin sou kon lees.
“En ek staan onner die bakhandmaan, en kyk hoe jy wegraak innie aand, tot ’n volgende môre se son weer gloei, en jy weer deur my are soos heuning kan vloei.”
André het al die songs op die album geskryf, verwerk en vervaardig - en onder meer in vyf ateljees gewerk aan die besondere produksie
Kaartjies is R80 en kan bespreek word by Vicky Stemmet by 083-564-0056 of by vstemmet@gmail.com.