Kuier by SA Kaasfees by Bien Donné
2010-04-22
DIE SA Kaasfees vind Saterdag tot Dinsdag by Bien Donné in Simondium plaas. Bring die hele familie vir ’n pretbelaaide dag omring met die heerlikste bederfkos en kaas te kies en te keur. Die Checkers Kaasemporium spog met die land se grootste versameling kase onder een 2 400 m² lugverkoelde dak. Vreemd en sterk of bekend en matig - jou keuse van kaas is daar. Vul ook jou sak of mandjie met soete verleidsters soos handgemaakte sjokolade, Turkse lekkers, nougat, en soet- of vonkelwyne. In die Checkers Teater sal Nataniël jou vermaak met sy vlymskerp humor, en die Giggling Gourmet Jenny Morris en Huisgenoot se kosredakteur, Carmen Niehaus, sal jou bekoor met hul verbeeldingryke kaasresepte. Gratis kaartjies na Nataniël se sessies is daagliks buite die Kaasemporium beskikbaar. Sien verskeie gunsteling vermaaklikheids-, kos- en ander ikone in aksie in die Kookpot. Geniet Soli Philander se kaaskenades, of laat Sarie se koskenners Herman Lensing en Barbara Joubert jou verras met kaas vir jou soettand. Die Pinotage ikoon, Beyers Truter, en Johan Badenhorst van Voetspore-faam, span saam vir ’n demonstrasie van kampkos en Pinotage. ’n Kombinasie van kwinkslae en canapés bring RSG aanbieder Johan Rademan, TV aanbieder en komediant Nico Nel en sjef Alet Erasmus saam om die stoof. Lusmakergeregte met Peroni as pasmaat is sjef Craig Hounsman se spesialiteit. Vermaaklikheidskunstenaars sal die jongspan help om van hul energie ontslae te raak in die Wilde Vrugtesap Kinderhoekie beman deur die professionele partytjie-organiseerders, Crazy Chameleon. Lewensgroot strokiesprentkarakters van die Boomerang Kanaal sal drukkies uitdeel en toor- en ballonkunstenaars sal kinders vir ure vermaak. Bring ook jou kinders om melk se reis van die koei, bok of skaap na die tafel mee te maak. Die nuwe SA Olyfervaring in Die Mall stel olyfentoesiaste in staat om hierdie oeroue vrug op verrassende maniere te ervaar - proe die suiwerste olyfolies en glansende swart en groen tafelolywe, tapenades en selfs olyfkonfyt. Daar is ook verskeie lekkernye, insluitend neute, tuisgemaakte konfyte, brood en pesto’s. Ontspan in die plaasmark en eet sommer jou inkopies daar of laat die verskeidenheid watertandgeure en -smake vanuit die Fynproewerslaan jou oorreed om ietsie te kom eet op ritme van BRAWOU! se musiek. Moenie vergeet om by die kruiekwekery aan te doen nie. Die organiseerders van die SA Kaasfees is toegewyd tot die vergroening van dié fees. Die gekontrakteerde oprigters van die stalletjiestrukture het ’n sterk verbintenis tot die groen beweging binne hul eie bedryf en herwin hul produkte jaarliks. ’n Groep van Franschhoek se voorheen-benadeelde gemeenskap is ook genooi om alle rommel vir herwinning te sorteer en so ’n handige inkomste te verdien. ’n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar by Computicket en Checkers/Shoprite-winkels (geen kaartjies by die hekke nie) teen R110 vir Saterdag en Sondag en R90 vir Maandag en Dinsdag. Senior burgers betaal R70 en kinders 12 jaar en jonger kom gratis. Die fees is daagliks oop van 10:00 tot 18:00 en sluit op die laaste dag om 17:00. Besoek www.cheesefestival.co.za.
More
News
|