EK is tydens die sogenaamde “road show” oor die 2010/2011 begroting van die Drakenstein Munisipaliteit op Woensdag 21 April in die Paarlse Stadsaal diep geskok deur die halstarrige houding van munisipale raadslid JT Basson en die amptenary, toe dit kom by my versoek dat toegewings aan inwoners van aftree-oorde gemaak behoort te word.
Alhoewel hierdie grondeienaars verantwoordelik is vir die instandhouding en vervanging van die infrastruktuur binne hulle komplekse, verseg die Munisipaliteit om enige afslag op hulle belastings of handelsdienstariewe toe te staan.
Die Munisipaliteit se standpunt is oënskynlik dat hierdie groep belastingbetalers hulle verskans het tot uitsluiting van die breër publiek en dus geen simpatie verdien nie. Die Munisipaliteit vergeet gerieflikheidshalwe dat bejaardes ’n teiken is en kwesbaar is vir die aanslae van kriminele. Omdat hulle nie op die beskerming van die polisie kan staatmaak nie, is hulle op hulle eie beveiliging aangewese. Talle bewyse van moorde, verkragtings en beserings waaraan bejaardes blootgestel word en waaroor in koerante berig word, getuig hiervan; derhalwe die ontstaan van aftree-oorde.
Omdat aftree-oorde vir bejaardes dus gesog en skaars is, is dit ook ’n feit dat bejaardes bereid is om ’n premie hiervoor te betaal en is eiendomspryse dus hoër met die gepaardgaande hoër belastinglas op inwoners.
Feit is egter dat die meerderheid inwoners weduwees is wat staatmaak op die inkomste van vaste kapitaalbeleggings wat as gevolg van inflasie en dalende rentekoerse al hoe swaarder kry om te oorleef. Hierbenewens, namate hulle ouer word, styg hulle mediese kostes, wat hulle benarde posisie verder vererger.
Uit die voorafgaande is dit duidelik dat die huidige munisipale regime nie ’n duit omgee vir die verknorsing waarin bejaardes hulle bevind nie. Wat ’n skande!
VC Garisch
May Carolissen, woordvoerder van Drakenstein Munisipaliteit, reageer: Die Munisipaliteit het simpatie met alle pensionarisse en belastingbetalers. Daar word tans voorgestel dat eiendomsbelasting met slegs 6% styg in plaas van die 7,5% soos in 2009/10.
Pensionarisse met ’n netto-inkomste van ongeveer R2000 per maand ( = staatspensioen + 75%) kwalifiseer om 40% korting te kry op eiendomsbelasting.
Indien u getroud is en u netto-inkomste is ongeveer R4000 per maand (2 x staatspensioen + 75%), kwalifiseer u vir 30% korting op u eiendomsbelasting.
Verder het slegs eiendomme van minder as R1,7 miljoen gekwalifiseer vir die korting in die 2009/10 finansiële jaar, maar in die voorgestelde begroting van 2010/11 kwalifiseer alle wonings vir korting, ongeag die waarde.