Vrou aangekla van man se skietdood
2010-04-29
Lise Beyers
’n JARELANGE huwelik vol onmin het die afgelope naweek met een skoot tot ’n einde gekom. Hierdie skoot het Saterdagmiddag geklap by Debussystraat 26, toe John Botha (50) een keer in die bors getref is deur ’n koeël vanuit sy vrou, Gereline, se .9mm Taurus handwapen. Volgens bure was ’n stryery in dié egpaar se woning niks vreemds nie. “Gereline het vantevore verskeie kere sake teen John gemaak weens mishandeling. Interdikte is ook teen hom uitgereik om nie naby sy vrou te kom nie.” Nadat Gereline en haar dogter Jennique (18) verlede jaar uit die familiewoning getrek het, het sy en John vroeër vanjaar hul huweliksbootjie probeer red. Hulle is saam op ’n romantiese vakansie en John het selfs vir Gereline ’n nuwe motor gekoop. Maar uiteindelik het hierdie bootjie tog gesink. Bure het Saterdagmiddag gehoor dat ’n stryery weer in die huis plaasgevind het. Kort hierna het ’n geweerskoot die rusie gedemp, waarna hul dogter Jennique uit die huis gehardloop het, op soek na hulp. John, wat sy eie taxi-onderneming behartig het, was reeds dood toe ’n buurvrou gaan help het. Gereline het Maandag in die Paarl Landdroshof verskyn op aanklag van moord. Sy is op borgtog vrygelaat. * A woman appeared in court this week after her husband died of a gunshot wound.
More
News
|