Oranje see gaan Paarl binneval
2010-04-29
Sieb Sieberhagen
’n SEE van oranje gaan die Paarl van 22 tot 28 Junie binneval wanneer die Nederlandse sokkerondersteuningsgroep, De Oranje-camping, hul tydelike tuiste by die Bergrivier-oord gaan inneem. Na beraming word 500 sokkergeesdriftiges hier verwag, wat na Suid-Afrika sal reis om die Nederlandse sokkerspan te ondersteun. Dit is die eerste keer dat hulle dit buite Europa aanpak. Ongelukkig sal daar niks kom van Drakenstein Munisipaliteit se poging om die Nederlandse ondersteuners by die Paarl se publieke kykarea te kry nie - die Nederlanders bring hulle eie markiestent, eie kroeg en eie “big screen” saam. Die Nederlandse besoekers was een van die Paarl 2010 Komitee se motiveringspunte om ’n publieke kykarea ten duurste in die Paarl in te rig, waarvoor meer as R4 miljoen benodig word. Intussen het die Drakenstein Munisipaliteit se finansiële departement die versoek om meer geld afgekeur en slegs die R1,2 miljoen in vanjaar se begroting aanbeveel. Ian Badenhorst, bestuurder van die Bergrivier-oord, sê dat meer as 100 motorkaravane en ondersteuningsvoertuie hier verwag word. “Die besoekers is baie georganiseerd. Die gemiddelde ouderdom van die besoekers is 38 en hulle keur ook die mense wat saamkom. “Die kafee sal net moet regstaan om kos aan die besoekers te voorsien. Dít is in die hande van die private kontrakteurs wat die kafee by die oord bedryf,” sê hy. “Die dag waarop Nederland teen Kameroen in Kaapstad speel (Donderdag 24 Junie), gaan die Nederlanders van die oord tot by die Paarl-stasie stap om met die trein Kaapstad toe te ry. Dit sal nogal iets wees om te sien,” sê hy.
More
News
|