Rowers slaan weer toe
2010-04-29
Lise Beyers
ROWERS het weer toegeslaan op ’n Paarlse woning aan die hange van Paarlberg. ’n Bekende sakevrou, Hanlie Snyman, was Donderdagnag kort na middernag alleen tuis toe die voorval plaasgevind het. Terwyl Snyman op haar rekenaar gewerk het, is sy oorval deur drie mans wat ’n skuifdeur van die huis in Klein Meulstraat oopgedwing het. Die mans het haar selfoon gegryp en een van hulle het haar vasgepen en geld geëis, terwyl ’n ander een na die tweede verdieping van die huis gegaan het, op soek na waardevolle goedere. Snyman het daarin geslaag om die alarm te aktiveer, en die mans het gevlug met twee skootrekenaars, motorsleutels en ’n selfoon. Nog ’n inwoner van Klein Meulstraat is vroeër dieselfde aand byna deur drie mans aangeval toe hy ondersoek ingestel het na sy honde se geblaf. Een van die mans het hom bestorm met ’n mes, maar hy het daarin geslaag om by sy huis in te vlug en die deur te sluit. Hierdie aanval het nou weer vrese laat opvlam oor wonings in gegoede woonbuurte aan die hange van Paarlberg wat deur misdadigers geteiken word. Aan die einde van verlede jaar is drie families hiér aangeval. Drie mans, almal Namibiërs, is tans steeds in aanhouding in verband met hierdie voorvalle. * Another attack by robbers has taken place in an upmarket neighbourhood on the slope of Paarl Mountain.
More
News
|