Albions vertoon beste
2005-09-15
SELFS al het Albions Rugbyklub se eerste span Saterdag vir Franschhoek op Daljosafat geklop pleks van die 17-17 elk gelykop telling, sou dit nie goed genoeg gewees het vir ’n tweede plek in die Eerste Liga nie.
Albions lê tans derde op die punteleer met 59 punte. Valsbaai (68 punte) en die voorloper Primrose (70) het egter reeds genoeg gedoen om te verhoed dat, met een wedstryd oor om te speel, hulle ingehaal word.
Albions se kanse op bevordering is dus daarmee heen, maar die klub kan ten minste spog met hul derde plek en die feit dat hulle vanjaar die beste van die Paarl-klub vertoon het.
Young Peoples Rugbyklub (49) is tans in die vierde plek, met Paarl Rugbyklub (33) sesde en Franschhoek (31) sewende.
Die tuisspan het rustyd 7-3 voorgeloop nadat die heelagter Dominic Daniels gedruk en Jacques Hendricks verdoel het.
Lesley Boonzaaier het vir Franschhoek met ’n strafdoel geslaag.
Vroeg in die tweede helfte storm die besoekers ’n skop af en val die vleuel, die bal toe om 8-7 die voorsprong te neem.
Franschhoek verleng hul voorsprong na 17-7 toe Lesley Boonzaaier slaag met twee strafdoele en ’n verdere skepdoel.
Albions se Alfredo Adams (plaasvervanger-slot) druk ’n drie nadat die tuisspan besit steel in ’n Franschhoek-lynstaan vyf meter van die doellyn.
In die laaste vyf minute loods Albions ’n aanval van hul doellyn. Die vleuel Newin Dennis ontvang die bal en gee uit vir Hendricks wat 40m ver nael en druk om die telling gelyk te maak.
Daniels, wat as speler van die wedstryd aangewys word vir sy veelsydige spel, kan egter nie met die doelskop slaag nie en Albions moet maar tevrede wees met ’n bykomende twee ligapunte.
Albions se tweede en derde spanne het 12-6 en 27-18 gewen.
Albions speel Saterdag in die Paarl sy laaste ligawedstryd teen die liganaaswenner, Valsbaai.
More
News
|